Nuus 17:00
BULLETIN 29 Julie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Amerika bevind dat plaasmoorde nie gewone misdade is nie
# Adjunkpresident Mashatile verklaar persoonlike eienaarskap van ‘n herehuis van 29-miljoen-rand in Kaapstad
# En rugby: Die Wallabies en die Leeus het albei beserings-probleme voor die laaste toets
# AfriForum vra president Cyril Ramaphosa om sterk standpunt in te neem oor plaasmoorde. Dit volg op ‘n verslag van die Amerikaanse regering wat sê plaasmoorde in Suid-Afrika is nie gewone misdaad nie. Die verslag kritiseer politici vir hulle stilte. Jacques Broodryk van AfriForum het Ramaphosa versoek om die kreet ‘Kill the Boer’ in die openbaar te veroordeel en voorkeur te gee aan plaasmoorde om plattelandse gemeenskappe te beskerm en wet en orde te herstel:
# Die adjunkminister van Arbeid en Indiensneming, Judith Nemadzinga-Tshabalala, waarsku oor globale risiko’s as gevolg van dalende steun vir multilaterale arbeidsinstellings. Sy het tydens die vierde G20-werkgroepsvergadering in George in die Wes-Kaap gesê werksverliese by die Internasionale Arbeidsorganisasie verswak globale arbeidsbeskerming. Nemadzinga-Tshabalala is ook bekommerd oor die toenemende geopolitieke spanning en handelstariewe, veral vanaf Amerika, wat Suider-Afrika se belangrike nywerhede bedreig:
# Adjunkpresident Paul Mashatile het verklaar dat hy die eienaar is van ‘n herehuis van 29-miljoen-rand in Constantia, Kaapstad. Die huis is geregistreer in die naam van ‘n maatskappy wat aan sy skoonseun, Nceba Nonkwelo, behoort. Volgens News24 volg die verklaring in die Parlement se jongste belange-register op ontkennings van amper twee-en-‘n-half-jaar. Die Valke ondersoek glo die bron van die geld waarmee die huis gekoop is. Mashatile het ook ‘n huis van 37-miljoen-rand in Waterfall in Midrand, Gauteng, verklaar, wat hy sê hy gebruik, maar nie besit nie.
# Solidariteit sê vlieëniers van FlySafair vra die publiek om hulle staking oor veiligheid en werksomstandighede te verstaan. Hulle skryf in ‘n ope brief hulle optrede gaan oor regverdige behandeling en tyd om te rus, en nie oor geld nie. Hulle waarsku dat ‘n nuwe geoutomatiseerde skeduleringstelsel sekere vlieëniers dwing om lang, moordende skofte te werk, wat tot uitputting sal lei en die veiligheid van passasiers in gevaar stel. Solidariteit vra die lugredery en die regering om dringend aandag te gee aan hierdie bekommernisse.
# Rugby: Die Wallabies sowel as die Britse en Ierse Leeus het beserings-terugslae ondervind voor Saterdag se laaste toets in Sydney. Die gashere sal moet klaarkom sonder die veteraan-stut, Allan Alaalatoa, wat sy skouer beseer het in die tweede toets in Melbourne. Die Leeus-senter Garry Ringrose sal ook die laaste toets misloop nadat ‘n kopbesering hom uit die vorige twee gehou het. Die besoekers het reeds die reeks beklink deur die eerste twee wedstryde te wen, maar hoofafrigter Andy Farrell sê hulle wil skoonskip maak.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-96-sent teen die dollar, 20-rand-70-sent teen die euro en 23-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 118-duisend-886-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-322-dollar-42-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 69-dollar-87-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….