Nuus 16:00
BULLETIN 29 Julie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Jonas vra Suid-Afrika om wêreldwye geleenthede aan te gryp te midde van veranderings
# Die saak teen Tiffany Meek word uitgestel na September
# En swem: Coetzé wen goud op die Wêreld-watersportkampioenskap
# Suid-Afrika se spesiale gesant na Amerika, Mcebisi Jonas, sê die land moet handelsmarkte uitbrei voor die Amerikaanse president, Donald Trump, na verwagting Vrydag ‘n aankondiging doen oor tariewe en die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika. Jonas het op die Kgalema Motlanthe-stigting se seminaar in Sandton, Johannesburg, gesê Amerikaanse bande is steeds van kardinale belang. Hy het Afrika aangespoor om die leiding te neem ondanks stygende skuld en handelsdreigemente, en beklemtoon die land se behoefte aan sterker streeksintegrasie en wêreldwye vennootskappe:
# Die saak teen die Gautengse vrou Tiffany Meek, wat beskuldig word van moord op haar 11-jarige-seun, Jaden-Lee, is tot 17 September uitgestel. Die streekswoordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, Phindi Mjonondwane, het buite die Landdroshof in Roodepoort gesê hulle verwelkom die besluit om Meek borgtog te weier. Sy word ook aangekla van regsverydeling, belemmering en crimen injuria. Mjonondwane sê Meek was oneerlik en kan dalk met getuies inmeng. Sy sê hulle is seker van ‘n suksesvolle vervolging:
# Die Vryheidsfront Plus vra Gauteng se premier, Panyaza Lesufi, om dringend in te gryp by landelike veiligheid na die onlangse moorde op kleinhoewes noord van Pretoria. In die jongste voorval is ‘n 46-jarige man gisteroggend op sy kleinhoewe in Kameeldrift-Oos vermoor. Jaco Mulder van die VF Plus sê dit volg kort na die moord op Mossie Mostert op sy eiendom in die Buffelsdrift-bewaringsgebied:
# Die adjunkminister van Vervoer, Mkhuleko Hlengwa, het die logistieke sektor versoek om hervorming aan te vuur en agtergeblewe gemeenskappe op te hef. Hy het tydens die Oorgrens Padvervoeragentskap se eerste konferensie van Mikro-, Klein- en Mediumondernemings in Gqeberha gesê daar is ‘n afname in vervoerondernemings in swart besit vanaf 48,6-persent in 2019 tot 38,8-persent in 2022. Hlengwa het meer openbare-privaat vennootskappe aangemoedig en verwys na die agentskap se nuwe ontwikkelings-program om vroue, die jeug en mense met gestremdhede te ondersteun. Hlengwa het jong Suid-Afrikaners aangemoedig om geleenthede in die vervoer- en logistieke bedryf aan te gryp.
# Swem: Die trots van Pretoria, die 21-jarige Pieter Coetzé, het die goue medalje in die 100-meter-rugslag gewen op die Wêreld-watersportkampioenskap in Singapoer. Hy het ook ‘n nuwe Afrika-rekord opgestel. Dit volg nadat Coetzé verlede week die goue medalje ingepalm het op die Wêreldstudentespele in Berlyn.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-96-sent teen die dollar, 20-rand-72-sent teen die euro en 23-rand-95-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 118-duisend-614-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-321-dollar-1-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 69-dollar-59-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….