Nuus 08:00
BULLETIN 29 Julie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Hlabisa sê ‘n doeltreffende plaaslike regeringstelsel is nodig
# Suid-Afrika ontvang ‘n lening van 10,4-miljard-rand om billike energie-oorgang te ondersteun
# En sokker: Ellis is trots op haar span met Banyana se terugkeer van Marokko
# Die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, sê doeltreffende plaaslike regering is nodig vir ekonomiese groei en sake-volhoubaarheid. Die minister het gister in Boksburg vir die jeug en vroue ‘n gesprek aangebied oor die hersiening van die 1998 Witskrif oor Plaaslike Regering. Die Witskrifhersiening is in Mei bekendgestel om die behoefte te beklemtoon dat plaaslike regering by ʼn veranderende wêreld moet aanpas. Hlabisa sê die land het ʼn doeltreffende plaaslike-regeringstelsel nodig wat inwoners waarlik dien:
# Suid-Afrika het ʼn lening van net meer as 10,4-miljard-rand van Duitsland se KfW Ontwikkelingsbank ontvang om die land se oorgang na ʼn laekoolstof-ekonomie te ondersteun. Die ooreenkoms bou voort op twee ander lenings in 2022 en 2023 en is deel van Duitsland se verbintenis by die COP26-klimaatsveranderingberaad om te help om Suid-Afrika se afhanklikheid van fossielbrandstof te verminder. Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, sê die lening sal die land se kort- en langtermyn-energiesekerheidmaatreëls versterk en steenkoolgebruik verminder.
# Die ANC-jeugliga verwelkom die inhegtenisneming van ʼn gewese munisipale bestuurder van die Umzimkhulu-munisipaliteit in KwaZulu-Natal, in verband met die moord op Sindiso Magaqa. Die gewese sekretaris-generaal van die jeugliga wat ʼn raadslid in die munisipaliteit was, is in 2017 doodgeskiet. Die sluipmoordenaar, Sibusiso Ncengwa, is vroeër die maand tot 25 jaar tronkstraf gevonnis. Die jeugliga eis dat die res van die verdagtes ook onmiddellik gearresteer word. Dit sluit wetstoepassers in wat die sluipmoord moontlik gemaak het deur wapens te verskaf, logistieke beskerming gebied het of skuldig is aan regsverydeling.
# Swaar reën het oorstromings en grondstortings in en om Beijing veroorsaak en meer as 30 lewens geëis terwyl talle nog vermis word. Meer as 80-duisend mense moes hervestig word, insluitend in die Miyun-distrik wat die swaarste getref is. Die reën het tientalle paaie beskadig en 136 dorpe sonder elektrisiteit gelaat. Beijing het Maandag sy strengste oorstromingswaarskuwing uitgereik. China se president Xi Jinping het amptenare beveel om ʼn dringende soek- en reddingsveldtog te begin na mense wat vermis word, inwoners wat in gevaar is te laat ontruim en ongevalle te beperk.
# Sokker: Banyana Banyana se afrigter, Desiree Ellis, sê hulle het geweet hul poging om hul Afrikabeker-vrouetoernooi-titel te verdedig, sou moeilik wees. Die span het gisteraand in Suid-Afrika aangekom. Hulle het vierde gekom in Marokko nadat hulle 3-4 teen Ghana verloor het in die wedstryd om die brons medalje. Die adjunkminister van Sport, Kuns en Kultuur, Peace Mabe, was op OR Tambo Internasionale Lughawe om die span terug te verwelkom. Ellis sê sy is trots op die spelers se algehele bydrae:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-89-sent teen die dollar, 20-rand-74-sent teen die euro en 23-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 118-duisend-355-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-314-dollar-73-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 69-dollar-34-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….