Nuus 18:00
BULLETIN 28 Julie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die GOOD-party kritiseer Emma Powell van die DA se buitelandse sake-rekord en noem dit ‘n ramp
# Business Leadership SA sê Ramaphosa se kabinetsverandering is ‘n stap in die regte rigting
# En swem: Pieter Coetzé van Suid-Afrika dring deur na die eindronde van die 100-meter-rugslag op die Wêreldkampioenskap
# Die GOOD-party verwelkom die bedanking van die DA se woordvoerder oor internasionale betrekkinge, Emma Powell, en beskryf haar ampstermyn as rampspoedig vir Suid-Afrika se buitelandse beleid. Die party is van mening Powell het die land se transformasie-agenda verkeerd voorgestel tydens oorsese reise, insluitend na Israel en Amerika. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron sê haar optrede het die verhoudings met die Amerikaanse administrasie beskadig en het die DA se verleentheid blootgelê om beide die regering en die opposisie te probeer wees:
# Business Leadership South Africa het president Cyril Ramaphosa se onlangse kabinetsveranderinge verwelkom as ‘n positiewe stap in die rigting tot herstel van die regering se integriteit. Die organisasie sê om ministers met bewerings van wangedrag teen hulle te verwyder, stuur ‘n sterk boodskap uit oor etiese leierskap. Uitvoerende hoof Busisiwe Mavuso sê in haar weeklikse nuusbrief die optrede en onlangse hoëprofiel-inhegtenisnemings dui op ‘n verskuiwing na ‘n sterker regering en die oppergesag van die reg, wat noodsaaklik is vir beleggersvertroue en ekonomiese herstel.
# Oudpresident Thabo Mbeki en die voormalige minister van Justisie, Brigitte Mabandla, het die Hooggeregshof in Pretoria gevra of hulle kan aansluit by ‘n mylpaal grondwetlike skadevergoedingsaak van 167-miljoen-rand. Die regsgeding deur 25 oorlewendes en familielede van slagoffers uit die apartheids-era daag die staat se versuim uit om sake te vervolg wat deur die Waarheids- en Versoeningskommissie verwys is. Mbeki en Mabandla se regsverteenwoordiger, senior advokaat Ngwako Maenetje, voer aan hulle het nie met vervolgings ingemeng of dit onderdruk nie:
Nuus uit die buiteland:
# Die leiers van Thailand en Kambodja het op ‘n onvoorwaardelike wapenstilstand ooreengekom na vyf dae van grensgevegte waarin minstens 36 mense dood is. Bykans 300-duisend mense het gevlug sedert die twee lande met grofgeskut, vuurpyle, en gewere op mekaar losgebrand het. Die bestrede gebied is die tuiste van enkele antieke tempels. Hierdie gevegte is die ergste in die gebied sedert geweld tussen 2008 en 2011 van tyd tot tyd in die gebied opgevlam het. Albei lande maak aanspraak op die gebied wat die Franse koloniale administrasie vaagweg in 1907 afgebaken het.
# Swem: Pieter Coetzé van Suid-Afrika het tweede geëindig in sy halfeind-uitdun van die 100-meter-rugslag op die Wêreld-watersportkampioenskap in Singapoer. Hy het in die derde vinnigste tyd gekwalifiseer vir môre se eindronde. Catherine van Rensburg het vroeër 26ste klaargemaak in die moordende een-duisend-500-meter-vryslag en Matthew Sates was 32ste in die 200-meter-vryslag.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-88-sent teen die dollar, 20-rand-81-sent teen die euro en 23-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 118-duisend-259-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-309-dollar-37-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 69-dollar-1-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….