Nuus 17:00
BULLETIN 28 Julie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Mbeki en Mabandla wil aansluit by ‘n skadevergoedings-hofsaak uit apartheid
# Emma Powell bedank as die DA se woordvoerder oor Internasionale Betrekkinge
# En rugby: Waugh is ontevrede oor die omstrede drie wat die reeks vir die Leeus beklink het
# Oudpresident Thabo Mbeki en die voormalige minister van Justisie, Brigitte Mabandla, het die Hooggeregshof in Pretoria gevra of hulle kan aansluit by ‘n mylpaal grondwetlike skadevergoedingsaak van 167-miljoen-rand. Die regsgeding deur 25 oorlewendes en familielede van slagoffers uit die apartheids-era daag die staat se versuim uit om sake te vervolg wat deur die Waarheids- en Versoeningskommissie verwys is. Mbeki en Mabandla se regsverteenwoordiger, senior advokaat Ngwako Maenetje, voer aan hulle het nie met vervolgings ingemeng of dit onderdruk nie:
# Die DA het Ryan Smith as sy nuwe parlementêre woordvoerder oor internasionale betrekkinge aangestel nadat Emma Powell uit die pos bedank het. Powell sal as ‘n lid van die parlementêre koukus aanbly, met ‘n nuwe portefeulje wat binnekort aangekondig sal word. Powell sê sy is geïntimideer, gedreig en onwettig dopgehou nadat sy die VSA besoek en beskuldig is dat sy waninligting oor die land versprei het. Sy het in ‘n boodskap op X gesê as ‘n vrou in die politiek verstaan sy hoeveel dit kos om in die openbaar teen boelies op te staan.
# Business Leadership South Africa verwelkom die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, se planne om munisipale mislukkings aan te pak wat die ekonomie miljarde kos. Die organisasie prys Hlabisa se samewerkende benadering en toewyding om saam te werk met groot metro’s soos Johannesburg, eThekwini en Nelson Mandelabaai om dienslewering te verbeter. Hulle ondersteun verbeterde munisipale leierskap en voortgesette samewerking tussen die regering en sakelui om beter diens te kan lewer.
# Die DA in Limpopo sê die 93-miljoen-rand wat geoormerk was om nuwe busse aan te skaf en toe gebruik is om die skuld te delg van die mislukte Great North Transport-busonderneming, sal nie sy probleme oplos nie. Die party eis ‘n volledige en deursigtige ondersoek na die ineenstorting van die onderneming wat eens meer as 500 busse bedryf het, maar nou slegs 23 werkende voertuie het. Die DA-lid, Jacques Smalle, gee voortdurende korrupsie en ANC-wanbestuur die skuld vir die agteruitgang:
Nou sportnuus:
# Rugby Australië se uitvoerende hoof, Phil Waugh, dring aan op ‘n verduideliking van Wêreldrugby oor die omstrede drie in die tweede toets in Melbourne wat die reeks vir die Britse en Ierse Leeus beklink het. Die Wallabies het 26-24 voorgeloop toe die Leeus se heelagter, Hugo Keenan, oorgeduik het om sy span 29-26 te laat wen. Kyk-weer het moontlike vuilspel deur die Leeus-flank Jac Morgan uitgewys, maar die Italiaanse skeidsregter, Andrea Piardi, het nie saamgestem nie. Waugh sê die drie moes nie toegeken gewees het nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-84-sent teen die dollar, 20-rand-77-sent teen die euro en 23-rand-96-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 118-duisend-541-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-328-dollar-83-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 69-dollar-20-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….