Nuus 16:00
BULLETIN 28 Julie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Emma Powell bedank as die DA se woordvoerder oor Internasionale Betrekkinge
# Die Presidensie teken groot vordering aan met die aanbevelings oor staatskaping
# En nog ‘n inwoner van Pretoria word doodgeskiet op ‘n kleinhoewe in Kameeldrift-Oos
# Die DA het Ryan Smith as sy nuwe parlementêre woordvoerder oor internasionale betrekkinge aangestel nadat Emma Powell uit die pos bedank het. Powell sal as ‘n lid van die parlementêre koukus aanbly, met ‘n nuwe portefeulje wat binnekort aangekondig sal word. Sy sê sy is geïntimideer, gedreig en onwettig dopgehou nadat sy Amerika besoek en beskuldig is dat sy waninligting oor Suid-Afrika versprei het. Powell het in ‘n boodskap op X gesê as ‘n vrou in die politiek verstaan sy hoeveel dit kos om in die openbaar teen boelies op te staan.
# Die Presidensie sê daar is goeie vordering gemaak in die stryd teen staatskaping, met byna die helfte van die 60 beplande stappe wat nou voltooi en elf-miljard-rand se gesteelde geld wat verhaal is. Die voormalige hoofregter, Raymond Zondo, het egter gewaarsku die vervolgings neem te lank en openbare vertroue verkeer in gevaar. Die woordvoerder in die Presidensie, Vincent Magwenya, sê ‘n nuwe teenkorrupsie-eenheid is daargestel en belangrike wette is verander om toekomstige korrupsie te stop:
# ‘n Soektog is van stapel gestuur ná ‘n gewelddadige huisinbraak vanoggend in Kameeldrift-Oos, Pretoria. Drie verdagtes het op die vlug geslaan nadat hulle by ‘n huis ingebreek en ‘n man noodlottig geskiet het. Die slagoffer se vrou en drie kinders is ongedeerd. Die Gemeenskapspolisieforum versoek inwoners om enige verdagte bedrywighede aan te meld. Hierdie voorval volg op die moord op die 82-jarige Mossie Mostert in Buffelsdrift verlede week.
# Die leier van Namibië se SWAPO-party, Netumbo Nandi-Ndaitwah, het vryheidsbewegings in Suider-Afrika gemaan om eksterne dreigemente teen te staan wat hul onafhanklikheid en prestasies betref. Sy het die beraad vir vryheidsbewegings in Johannesburg toegespreek. Nandi-Ndaitwah het medeleiers herinner dat bevryding volgens haar ‘n voortgesette proses is wat volgehoue toewyding, waaksaamheid en aktivisme vereis. Sy vra bevrydingsbewegings om hulle te verbind tot wêreldwye koalisies om hul stem en stryd te versterk:
# Krieket: Die snelbouler en veelsydige speler Jamie Overton is ingesluit by Engeland se groep vir die vyfde en laaste toets teen Indië wat Donderdag op die Oval in Londen begin. Dit volg nadat die gashere se snelaanval nie die besoekers kon uitboul op die laaste dag van die vierde toets op Old Trafford nie. Die wedstryd het onbeslis geëindig. Engeland se kaptein, Ben Stokes, sê hulle het vars bene nodig, maar hy sal speel al sukkel hy met beserings. Overton het in 2022 sy enigste toets vir Engeland gespeel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-86-sent teen die dollar, 20-rand-81-sent teen die euro en 23-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 118-duisend-980-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-335-dollar-19-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-82-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….