Nuus 15:00
BULLETIN 28 Julie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Presidensie teken groot vordering aan met die aanbevelings oor staatskaping
# Die DA verwerp die plan om die Pretoriase stadsaal in ‘n Iranse kultuursentrum te omskep
# En rugby: ‘n Gewese All Black kan die naweek vir die Wallabies speel
# Die Presidensie sê daar is goeie vordering gemaak in die stryd teen staatskaping, met byna die helfte van die 60 beplande stappe wat nou voltooi en elf-miljard-rand se gesteelde geld wat verhaal is. Die voormalige hoofregter, Raymond Zondo, het egter gewaarsku die vervolgings neem te lank en openbare vertroue verkeer in gevaar. Die woordvoerder in die Presidensie, Vincent Magwenya, sê ‘n nuwe teenkorrupsie-eenheid is daargestel en belangrike wette is verander om toekomstige korrupsie te stop:
# ActionSA sê Suid-Afrika se bemagtigingsagenda moet aanhou fokus op die behoeftes van Suid-Afrikaners en nie buitelandse burgers bevoordeel nie. Die party sê die Polokwane plaaslike munisipaliteit in Limpopo het die afgelope twee boekjare tenders ter waarde van ongeveer 200-miljoen-rand aan buitelandse ondernemings toegeken. Tshepo Magoma van ActionSA sê die doel van swart ekonomiese bemagtiging is om geskiedkundige ongeregtighede reg te stel en voorheen-benadeelde Suid-Afrikaanse burgers te bemagtig:
# Die DA in Tshwane is gekant daarteen om enigsins die Pretoriase stadsaal aan Iran te verkoop, te verhuur of te skenk vir ‘n kultuursentrum. Die koukusleier, Cilliers Brink, sê Iran stel nie belang om die landmerk op te knap nie, maar wil slegs munisipale eiendom bekom. Brink waarsku dat hierdie stap diplomatieke bande met Suid-Afrika se belangrikste handelsvennoot, Amerika, kan skaad. Hy beklemtoon dit stel nasionale belange in gevaar vir beperkte politieke gewin:
# China sê hy sien uit daarna om wederkerigheid in handel met Amerika te verseker, met voorste ekonomiese amptenare wat gereed is om onderhandelings in die Sweedse hoofstad, Stockholm, te hervat. Gesprekke tussen die wêreld se twee grootse ekonomieë vind die volgende twee dae plaas, met ‘n verlenging van laer tariefvlakke in die vooruitsig namate president Donald Trump se handelsbeleid ‘n kritieke week betree. As daar nie in die komende dae ‘n ooreenkoms bereik word nie, kan dosyne handelsvennote, insluitend Suid-Afrika, van Vrydag af aansienlike tariefverhogings op uitvoere na Amerika te wagte wees.
# Rugby: Die voormalige All Black-stut Aidan Ross kan moontlik hierdie naweek sy buiging vir die Wallabies maak in die derde en laaste toets teen die Britse en Ierse Leeus. Hy is in Australië gebore en het as kind na Nieu-Seeland verhuis. Die 29-jarige Ross het in 2022 ‘n enkele toets vir die All Blacks gespeel en het nou Wêreldrugby se verpligte wagtydperk van drie jaar voltooi voordat hy vir ‘n ander land mag speel. Die Leeus het die eerste twee toetse gewen en die laaste toets word Saterdag in Sydney gespeel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-85-sent teen die dollar, 20-rand-80-sent teen die euro en 23-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 118-duisend-568-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-335-dollar-56-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-50-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….