Nuus 11:00
BULLETIN 28 Julie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê werksgeleenthede in die motorvervaardigingsektor moet beskerm word
# ActionSA wil hê adjunkministers moet afgeskaf word
# En fietsry: Pogačar word geprys as een van die bestes nadat hy die Tour de France die vierde keer wen
# President Cyril Ramaphosa sê die beskerming van bestaande werksgeleenthede in die motorvervaardigingsektor is van die grootste belang, veral in die lig van die dreigende Amerikaanse tariewe van 30-persent vanaf Vrydag. Die president sê in sy weeklikse nuusbrief strenger regulasies oor die vrystelling van uitlaatgasse en die verwagte tariewe sal ‘n beduidende uitwerking op die sektor hê. Ramaphosa sê die plaaslike motorbedryf maak daarom die nodige belegging om veerkragtigheid te bou, werksgeleenthede te beskerm en die weg te baan na ‘n nuwe era van groen beweeglikheid.
# ActionSA sê as sy Twee-en-twintigste Wysigingswetsontwerp op die Grondwet wat pas in die Staatskoerant gepubliseer is, aanvaar word, sal dit die omvattendste hersiening van die oordadige nasionale uitvoerende gesag wees sedert die begin van demokrasie in 1994. Die uitvoerende gesag bestaan uit 32 ministers en 43 adjunkte. ActionSA se woordvoerder, Matthew George, sê van die voorstelle is dat adjunkministers afgeskaf word, die Nasionale Vergadering individuele ministers deur mosies van wantroue mag verwyder en die president se eensydige mag beëindig word:
# Die Gautengse polisiekommissaris, Tommy Mthombeni, het polisielede aangespoor om gebruik te maak van geriewe vir gesondheid en welstand om hulle met enige probleme te help wat hulle mag ondervind. Dit volg nadat ‘n polisiekaptein die naweek na bewering sy meisie – ook ‘n polisielid – en haar broer doodgeskiet het tydens ‘n partytjie in Soweto en toe sy eie lewe geneem het. ‘n Polisiewoordvoerder, Dimakatso Nevhuhulwi, sê drie mense is gewond:
Nuus uit die buiteland:
# Die Wêreldgesondheidsorganisasie waarsku wanvoeding in Gaza neem kritieke afmetings aan en sê doelbewuste blokkering en vertragings kos baie lewens. Israel, Jordanië en die Verenigde Arabiese Emirate het die naweek per lug hulp in Gaza gelewer. Humanitêre groepe veroordeel dit egter as duur, ondoeltreffend en gevaarlik. Die WGO sê 74 hongersnoodsterftes is in 2025 aangemeld waarvan 63 in Julie was. Hiervan was 24 kinders jonger as vyf. Die organisasie herhaal sy oproep vir ‘n skietstilstand en volgehoue hulp aan Gaza.
# Fietsry: Die heersende kampioen, Tadej Pogačar, het sy vierde Tour de France-titel gebuit en sy status bevestig as een van die beste fietsryers van sy geslag. Die Sloween kon egter nie die laaste skof wen nie nadat die Belg, Wout van Aert eerste oor die wenstreep is in die Champs-Élysées in Parys. Die tweemalige wenner, Jonas Vingegaard van Denemarke, was vier-minute-24-sekondes stadiger as Pogačar, met die Duitser, Florian Lipowitz, derde. Pogačar sê hy besef hy kan nie vir ewig meeding nie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-77 sent teen die dollar, 20-rand-83-sent teen die euro en 23-rand-83 sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 119-duisend-450 dollar. Die prys van goud is drie-duisend-341-dollar-44-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 67-dollar-18-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….