Nuus 09:00
BULLETIN 11 Januarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika se volksmoordsaak teen Israel kan ernstige gevolge hê
# Die NSFAS-raadsvoorsitter is op tydelike verlof te midde van korrupsiebewerings
# En tennis, Djokovic en Sabalenka begin die verdediging van hul Australiese Ope-titels teen kwalifiseerders
# ‘n Senior dosent aan die Universiteit van Pretoria se regsfakulteit, Faranaaz Veriava, sê Suid-Afrika se saak teen Israel is ʼn strategie om bindende verpligtinge aan die land op te lê waar die Verenigde Nasies se veiligheidsraad nie kon slaag om dit te doen nie. Israel verskyn vandag voor die Internasionale Geregshof in Den Haag in verband met Suid-Afrika se beskuldigings dat hy volksmoord pleeg in Gaza. Veriava sê ʼn uitspraak teen Israel sal moreel en wettig bevestig dat sy optrede in Gaza verkeerd is, en sal lande dwing om op te tree teen die vermeende volksmoord teen Palestyne.
# Die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente se raadsvoorsitter, Ernest Khosa, is tydelik met verlof nadat die Organisasie teen Belastingmisbruik bewerings van korrupsie teen hom gemaak het. Outa beweer in ʼn verslag, diensverskaffers wat kontrakte van die skema ontvang het, het miljoene rande se gunsloon aan die minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Innovasie, Blade Nzimande, Khosa en die SAKP betaal. Die skema se woordvoerder, Ishmael Mnisi, sê Khosa het aan die raad herhaal dat hy nooit enige finansiële vergoeding vir sy persoonlike gebruik ontvang het nie:
# Die United Independent Movement sê indien die ANC aan bewind bly, loop die toelaes van die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid en die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente gevaar om te verdwyn. Die beweging beweer diefstal en korrupsie sal vererger, wat die byna 1,3-miljoen studente wat deur NSFAS befonds word en die 47-persent van begunstigdes wat op maandelikse maatskaplike toelaes staatmaak, in gevaar stel. Hulle veroordeel die onlangse verhoging van tien-rand in die pensioentoelaag. Die party beloof om werkloosheid uit te roei en beter ondersteuning aan studente en pensioentrekkers te bied onder sy leierskap.
# Die GOOD Party sê hy is bekommerd oor berigte dat die Tshwane Ekonomiese Ontwikkelingsagentskap nie ʼn enkele sent aan direkte buitelandse beleggings gelok het nie ten spyte van die Stad Tshwane se befondsing van 500-miljoen-rand die afgelope tien jaar. Die agentskap is in 2006 gestig om ekonomiese ontwikkeling in die hoofstad veral deur direkte buitelandse belegging te fasiliteer. Sarah Mabotsa van die GOOD Party sê dit wys die agentskap is onbevoeg vir sy doel en moenie befondsing ontvang nie:
# Tennis: Die wêreld se nommer een, Novak Djokovic begin sy veldtog vir ʼn rekord elfde Australiese Ope-titel teen ʼn kwalifiseerder of gelukkige verloorder. Die Serwiër kom moontlik in die derde ronde teen die Brit, Andy Murray, te staan en in die kwarteindronde teen die Griek, Stefanos Tsitsipas. Carlos Alcaraz van Spanje is boaan die onderste helfte van die trekking en skop sy toernooi af teen die Fransman Richard Gasquet. In die eerste ronde vir vroue takel die topgekeurde Iga Swiatek van Pole die Amerikaner en 2020-kampioen, Sofia Kenin, terwyl Aryna Sabalenka van Belarus begin om haar titel teen ʼn kwalifiseerder te verdedig.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-64-sent teen die dollar, 20-rand-48-sent teen die euro en 23-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 46-duisend-325-dollar-77-sent. Die prys van goud is twee-duisend-31-dollar-88-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-14-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….