Nuus 07:00
BULLETIN 28 Julie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa veroordeel Israel se uithonger van Palestyne
# Die DA eis dat minister Tau ‘n Amerikaanse handelsooreenkoms sluit
# En die EFF sê sy 12de verjaardagvieringe was ‘n dawerende sukses
# President Cyril Ramaphosa het wat hy beskryf as Israel se volksmoord teen Palestyne sterk veroordeel. Israel hou vol hy is nie verantwoordelik vir die humanitêre katastrofe in Gaza nie en beperk nie hulpverlening nie. Minstens 133 mense, insluitend 87 kinders is volgens berigte aan wanvoeding dood sedert die konflik in Oktober 2023 begin het. Ramaphosa sê die doelbewuste verhongering van mense in Gaza is afgryslik:
Die Verenigde Nasies se hoëkommissaris vir menseregte, Volker Türk, het intussen regerings gevra om hul invloed te gebruik en druk op Israel te plaas om die oorlog in Gaza te beëindig. Israel het Sondag tien ure lank ‘n taktiese onderbreking van militêre optrede in drie gebiede in Gaza ingestel te midde van internasionale teenkanting teen hongersnood in Gaza. Türk het in aanloop tot ʼn konferensie oor Palestina wat vandag in New York begin, gesê lande wat nie hul invloed gebruik nie, is moontlik medepligtig aan oorlogsmisdade:
# Die DA doen ‘n beroep op die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, om dringend ‘n handelsooreenkoms met die Verenigde State te finaliseer en waarsku dat 100-duisend werksgeleenthede op die spel is. DA-woordvoerder Toby Chance sê onderhandelinge is enkele dae voor die sperdatum van 1 Augustus nog nie afgehandel nie, met geen openbare inligting beskikbaar nie. Chance sê in die lig van diplomatieke flaters en dreigende tariewe hanteer die ANC die kwessie swak. Hy waarsku sonder ‘n ooreenkom kan die land se landbou- en motorsektore verwoes word.
# Die EFF sê sy 12de verjaardagviering was ʼn groot sukses. Die geleentheid is Saterdag by die Khayelitsha-rugbystadion in Kaapstad in ʼn moderne koepelstruktuur gehou. Die EFF sê die viering dra ʼn kragtige boodskap oor dat Suid-Afrika vasgevang bly in misdaad, werkloosheid, korrupsie en ongelykheid. Die party het beloof om aan te hou betoog en onregverdigheid uit te daag van die Parlement tot in die strate.
# Motorsport: Oscar Piastri van McLaren het die Belgiese Grand Prix gewen en sy sesde oorwinning van die seisoen beklink. Die resies het weens swaar reën 80 minute laat begin en in die eerste vier rondtes moes deelnemers ʼn veiligheidsmotor volg. Nadat die resies in die vyfde rondte aan die gang gekom het, het die Australiër sy spanmaat, Lando Norris, verbygesteek en die wedren beheer. Charles Leclerc van Ferrari het derde klaargemaak. Piastri, wat sy kampioenskapsvoorsprong bo Norris tot 16 punte opgestoot het, sê dit was ʼn woelige wedren:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-74-sent teen die dollar, 20-rand-86-sent teen die euro en 23-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 119-duisend-240-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-335-dollar-1-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar-87-sent per vat.
# En ten slotte: Johnny Mahlangu van Wits-universiteit is deel van ‘n wêreldwye span agter deurbraak-geen-terapie vir hemofilie A. Die ontwikkeling van hierdie behandeling is ‘n belangrike mylpaal in internasionale geen-terapie-navorsing. ‘n Fase 1-toets in Indië het getoon dat pasiënte vir meer as 27 maande bloedingvry bly nadat hulle met hierdie gemodifiseerde virus ingespuit is. Indien dit deur die Voedsel- en Medisyne-administrasie goedgekeur word, kan dit die tweede geen-terapie vir hemofilie A word, wat ‘n langtermyn-alternatief vir lewenslange Faktor-Agt-vervangingsterapie bied.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….