Nuus 08:00
BULLETIN 27 Julie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Paul Mashatile dring aan op Afrika-eenheid en ekonomiese hervorming
# Kenny Kunene bedank as Johannesburgse raadslid
# En rugby: Die Leeus troef die Haaie en die Bulle oorweldig die WP in hul Curriebeker-kragmetings
# Die adjunkpresident van die ANC Paul Mashatile het Afrika-leiers aangemoedig om te verenig en ekonomiese transformasie deur middel van plaaslike oplossings te dryf. Mashatile het tydens die Bevrydingsbeweging-beraad in Johannesburg ‘n beroep gedoen om simboliek in aksie te omskep om armoede en die nalatenskap van kolonialisme te takel. Hy het die informele oorgrenssektor, wat 43-persent van Afrika se bruto binnelandse produk uitmaak, uitgelig as ‘n noodsaaklike geleentheid vir integrasie onder die Afrika-vasteland Vryhandelsgebied en Agenda 2063:
# Die Patriotic Alliance het sy adjunkpresident, Kenny Kunene, geskors, en laasgenoemde het ook bedank as Johannesburgse raadslid en burgemeesterskomiteelid vir Vervoer. Dit volg op ‘n ondersoek na sy bande met die sakeman Katiso KT Molefe, wat daarvan beskuldig word dat hy DJ Sumbody se moord georkestreer het. Kunene sê hy was by Molefe se huis vir ‘n media-onderhoud tydens ‘n polisie-klopjag. Die PA het sy skorsing bevestig. Kunene tree uit die politiek maar het sy lojaliteit teenoor die party herbevestig.
Die streeksekretaris van ActionSA in Johannesburg, Lebo Mokoka, het intussen die Patriotic Alliance se skorsing van adjunkpresident Kenny Kunene en sy bedanking as burgemeesterskomiteelid vir Vervoer verwelkom. In ‘n onderhoud met Newzroom Afrika het Mokoka die burgemeester, Dada Morero, versoek om die vakature vinnig te vul om dienslewering te handhaaf. Sy sê Kunene sal nie gemis word nie want sy bydraes het nie meetbare resultate opgelewer nie:
# Die Kaapstadse prokureur Sarah Burger is ná 17 maande in die Oos-Londense Gespesialiseerde Handelsmisdaadhof op alle aanklagte in die 171-miljoen-rand Fort Hare-bedrogsaak vrygespreek. Burger, wat die fluitjieblaser oor korrupsie by die universiteit was, beplan nou om die polisie en die Nasionale Vervolgingsgesag te dagvaar. Sy het haar verligting teenoor eNCA uitgespreek en onderneem om die owerhede aanspreeklik te hou:
# ‘n Klein span Britse militêre beplanners en logistieke kenners is beskikbaar om Jordanië te help met die lugaflewering van hulp in Gaza. Hulle kan binne die volgende twee dae ontplooi word. Die Britse premier Keir Stamer het aan die Mirror gesê die regering werk reeds met die Jordaniese owerhede saam om Britse hulp op vliegtuie en in Gaza te kry. Brittanje het ook voorheen vliegtuie gestuur om hulp af te lewer. Britse magte het voorheen al elf lugaflewerings in Gaza voltooi en 110 ton noodlenigingsitems afgelewer as deel van ‘n internasionale lugkoalisie wat Jordanië lei.
# En rugby: Die Leeus het die verdedigende Curriebeker-kampioene, die Haaie, gister in hul openingswedstryd op Ellispark met 46-5 geklop. Die vleuel Rabz Maxwane het twee drieë gedruk met die Leeus wat sewe keer agter die pale gedraai het. Die Haaie het hul enigste drie in die tweede helfte gedruk. En in Kaapstad het die Westelike Provinsie in die eerste helfte gesteier onder ‘n verwoede aanslag van die Bulle en verskeie geelkaarte het hulle verder op die agtervoet geplaas. Die WP het met 48-23 die knie gebuig voor die blou golf van die noorde.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….