Nuus 11:00
BULLETIN 26 Julie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die NVG veroordeel die uitlek van ’n beëdigde verklaring in die Bushiri-saak
# Eskom handhaaf bestendige kragvoorsiening in die winter
# En Suid-Afrika verkry ‘n lening van 8,4-miljard-rand van die Afrika-ontwikkelingsbank
# Die Nasionale Vervolgingsgesag het die uitlek van ‘n beëdigde verklaring deur ‘n staatsgetuie in die saak teen die omstrede Malawiese pastoor, Shepherd Bushiri veroordeel. Lumka Mahanjana van die NVG sê die verklaring, wat deel is van die saakdossier wat met die verdediging gedeel is, kan die staat se saak ondermyn en die getuie, wie se volledige besonderhede en foto gepubliseer is, in gevaar stel. Die verhoor is vasgestel vir 4 Augustus 2025. Mahanjana het die media versoek om verantwoordelik te berig sonder om getuies in gevaar te stel.
# Eskom sê sy kragnetwerk is steeds bestendig. Die kragvoorsiener het geen beurtkrag sedert 15 Mei ingestel nie en slegs 26 uur van April tot Julie. Eskom-woordvoerder Daphne Mokoena sê die huidige onbeplande onderbrekings staan op elf-duisend-695-megawatt, met beskikbare vermoë van 30-duisend-236-megawatt. Mokoena sê Eskom beplan om volgende week drie-duisend-960-megawatt te herstel. Sy bevestig dieselverbruik is steeds binne begroting en die verminderde afhanklikheid van gasturbines dui op beter prestasie met ‘n bestendige winter-netwerk:
# ‘n Vrou van Limpopo het in die Seshego-landdroshof verskyn in verband met die moord op haar tweejarige dogter in Ga-Mashashane. ‘n Polisiewoordvoerder, Malesela Ledwaba, sê die kind is Donderdag bewusteloos op ‘n bed gevind en paramedici het haar op die toneel dood verklaar. Die oorsaak is onbekend. Die saak is tot 1 Augustus uitgestel vir ‘n borgtogaansoek:
# Suid-Afrika het ‘n lening van 8,4-miljard-rand van die Afrika-ontwikkelingsbank ontvang om billike energie-oordrag te ondersteun. Die Nasionale Tesourie sê die 15-jaar-ooreenkoms met ‘n driejaar-grasietydperk sal infrastruktuur-volhoubaarheid, energie-doeltreffendheid en ontkoling bevorder. Die befondsing vorm deel van die derde Ontwikkelingsbeleidsoperasie, met die ondersteuning van internasionale vennote soos die Wêreldbank en KFW-ontwikkelingsbank. Die Tesourie sê dis ‘n belangrike stap vir strukturele hervorming, werkskepping en inklusiewe groei in die energie- en vervoersektore.
En laastens sportnuus:
# Krieket: Joe Root het in die vierde van ‘n reeks van vyf toete teen Indië op Old Trafford die toetsspeler met die tweede-hoogste telling ooit geword. Die gewese Engelse kaptein het die Australiese legende Ricky Ponting verbygesteek met sy telling op 120 nadat hy vroeër die dag Rahul Dravid van Indië en Jacques Kallis van Suid-Afrika verbygesteek het. Die 34-jarige Root, wat in sy 157ste toets speel, het Ponting se totaal van 13-duisend-378 verbygesteek. Sachin Tendulkar van Indië is steeds bo-aan die lys met ‘n allemintige 15-duisend-921 lopies in 200 toetse.
# En gholf: Ernie Els is in die gesamentlike vierde plek na die tweede rondte van die ISPS Handa Senior Ope in Brittanje. Dit is twee houe agter die voorloper Padraig Harrington van Ierland. Els het ‘n drie onder baansyfer 67 aangeteken met die Brit Cameron Percy op ‘n vyf onder 65, en Ricardo Gonzalez van Argentinië op ‘n ses onder 67. Retief Goosen, wat die agterhoede vorm vir Suid-Afrika, is in die 18de posisie met ‘n ronde van 70. Harrington lei met een hou aan die begin van die derde ronde. Die ISPS HANDA Senior Ope is die vyfde major toernooi in die PGA-toernooi.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….