Nuus 08:00
BULLETIN 26 Julie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Shadrack Sibiya sê Fannie Masemola het die taakspan vir politieke moorde ontbind
# ‘n Pastoor van KwaZulu-Natal kry tien lewenslange vonnisse vir die verkragting van 12 kinders
# En rugby: Die Pumas begin hul Curriebeker-veldtog met ‘n bonuspunt-oorwinning oor Griekwas
# Adjunk-polisiekommissaris Shadrack Sibiya het ‘n dringende aansoek by die Hooggeregshof in Pretoria ingedien om sy werk te hervat nadat hy verlof moes neem te midde van bewerings deur die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris Nhlanhla Mkhwanazi. Mkhwanazi beskuldig Sibiya dat hy die gereg gedwarsboom het en verdagtes met politieke bande beskerm het. Volgens New24 beweer Sibiya die ontbinding van die polisie se taakspan vir politieke moorde en die opdrag oor 121 dossiers in Januarie 2025 kom van die polisieminister Senzo Mchunu af via die nasionale polisiekommissaris Fannie Masemola. Hy doen ‘n beroep op die hof om Maseloma te verbied om gelyktydig stappe teen hom te doen.
# City Power het berigte van ’n klopjag en dokumentbeslaglegging deur die Valke by sy hoofkantoor in Johannesburg ten sterkste veroordeel. Berigte het vroeër daarop gedui dat topbestuurders, insluitend die uitvoerende hoof, Tshifularo Mashava, betrek word by twyfelagtige kontrakte van miljoene rande met mislukte instandhouding, verhoogde betalings en uitkontraktering. City Power se woordvoerder Isaac Mangena hou vol geen klopjag, beslaglegging of ondervragings het plaasgevind nie:
# Die Nquthu-streekhof in KwaZulu-Natal het ‘n pastoor tien keer lewenslange tronkstraf opgelê en ‘n bykomende 70 jaar vir die verkragting en seksuele aanranding van 12 minderjariges. Die misdade, wat tussen 2020 en 2022 teen kinders tussen die ouderdomme van ses tot 14 gepleeg is, het aan die lig gekom toe ‘n voog die slagoffers hoor praat en die polisie in kennis gestel het. ‘n Woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, Natasha Ramkisson-Kara, sê die vonnis stuur ‘n duidelike boodskap vir diegene wat ‘n posisie van vertroue misbruik:
# Senior regeringsamptenare sê Thailand verkies bilaterale onderhandelings eerder as derdeparty-bemiddeling om sy militêre konflik met Kambodja op te los. Reuters berig gevegte langs hul betwiste grens het gister onverpoosd voortgeduur. Onderliggende spanning tussen die twee lande het op verskeie plekke langs die grens in openlike konflik opgevlam met die hewigste gevegte tussen die Suidoos-Asiatiese bure in meer as ‘n dekade. Daar was gister vir ‘n tweede agtereenvolgende dag wedersydse aanvalle.
# Sportnuus:
# Rugby: Die Pumas het hul Curriebeker-veldtog gisteraand afgeskop met ‘n oortuigende oorwinning van 49-28 oor Griekwas op hul tuisveld in die Mbombela-stadion, en ook ‘n bonuspunt verdien. Die gashere het hul teenstanders met ses drieë teenoor drie getroef. Die Pumas was met rustyd met 25-23 voor. Griekwas se wedstryd is gekenmerk deur swak dissipline en drie geelkaarte. In ander wedstryde vandag pak die Leeus die Haaie in Johannesburg om drie-uur, en die Blou Bulle reis na Kaapstad vir hul ontmoeting met die Westelike Provinsie om vyf-uur.
# En gholf: Die organiseerders van die Sonskyntoer het aangekondig dat die Alfred Dunhill-Kampioenskap na sy historiese oorsprong in Johannesburg terugkeer wanneer dit vanaf 11 tot 14 Desember by die Royal Johannesburg Gholfbaan gespeel word. Die kommissaris van die Sonskyntoer, Thomas Abt, sê die aanbieding by die Leopard Creek-gholfbaan van beide die Alfred Dunhill Kampioenskap en ook die R&A Afrika Amateur-kampioenskap kort na mekaar het die baan onder druk geplaas en dit het ‘n herstel-tydperk nodig.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….