Nuus 17:00
BULLETIN 25 Julie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Valke voer ‘n klopjag by City Power uit oor beweerde tenderbedrog van 500-miljoen-rand
# Sokker: Banyana mik vir brons ter ere van die beseerde Gabriela Salgado
# En SANParke waarsku oor hondsdol robbe aan die kus
# Die Valke het ‘n klopjag uitgevoer by City Power se hoofkantoor in Johannesburg as deel van ‘n ondersoek na korrupsie van 500-miljoen-rand. Volgens News24 was die uitvoerende hoof van die maatskappy, Tshifularo Mashava, die hoofteiken van die ondersoek wat fokus op buitensporige tenders en betalings vir onvoltooide werk. Ondersoekers het op rekenaartoerusting en dokumente beslag gelê. Die klopjag volg op verskeie berigte van finansiële wanbestuur by City Power, wat ‘n verlies van drie-miljard-rand in die vorige boekjaar getoon het met ‘n negatiewe bankbalans van meer as 16-miljard-rand.
City Power sal intussen voortgaan om onwettige verbindings uit te wis, want die kragverskaffer het in 2024 2,5-miljard-rand weens onwettige verbindings verloor. Woordvoerder Isaac Mangena sê opgeskorte dienste na dele van Tsepisong is as gevolg van wydverspreide onwettige kragverbindings. Amptenare sê die gemeenskap het die meters omseil, die infrastruktuur verniel en tegnici gedreig. Mangena moedig inwoners aan om aansoek te doen vir die gratis basiese elektrisiteitsprogram om afsluitings te vermy:
# President Cyril Ramaphosa vra dringende ondersteuning en kreatiewe befondsing vir sleutel-infrastruktuurprojekte in die Noord-Kaap, insluitend die Groot Gat-gebied in Kimberley en Boegoebaai se hawe. Ramaphosa sê hierdie ontwikkelings is van kritieke belang om ekonomiese groei te ontsluit en beleggings te lok. Hy bepleit ook ‘n hersiening van huidige leweringsmodelle om goedkeurings en inwerkingstelling te bespoedig, en sê beter beplanning op alle regeringsvlakke is die sleutel tot die suksesvolle deurvoering van projekte:
# Sokker: Die hoofafrigter van Banyana Banyana, Desiree Ellis, is vol vertroue dat haar span die derde plek kan verower deur Ghana in vanaand se uitspeelstryd van die Afrikabeker-vrouetoernooi te klop. Ellis sê hulle is vasberade om die bronsmedalje te verower om die beseerde Gabriela Salgado te vereer en op toepaslike wyse van Jermaine Seoposenwe afskeid te neem. Banyana het Ghana vroeër in die groepfase 2-0 geklop. Ellis erken daar is emosionele uitdagings, maar glo in haar spelers se veerkragtigheid:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-77-sent teen die dollar, 20-rand-84-sent teen die euro en 23-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 116-duisend-118-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-341-dollar-19-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-62-sent per vat.
# En ten slotte: SANParke waarsku die publiek om fisiese kontak met dooie of lewende robbe te vermy weens ‘n hondsdolheid-uitbreking langs die kusgebiede van die Wes- en die Noord-Kaap. Volgens SANParke word hondsdolheid nou as endemies beskou in Kaapse pelsrobbe in die Wes-Kaap, wat ‘n eerste is vir mariene-soogdiere. Die virus versprei deur byte, skrape of speekselkontak. SANParke beveel onmiddellike mediese aandag aan indien iemand gebyt word en vra dat enige ongewone rob-gedrag aangemeld moet word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….