Nuus 15:00
BULLETIN 25 Julie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika onderteken ‘n ooreenkoms met Amerika slegs dae voor die tariewe van 30-persent werking tree
# ‘n Bejaarde man word op ‘n kleinhoewe noord van Pretoria vermoor
# En rugby: Die Curriebeker se Premierafdeling skop vanaand af
# Suid-Afrika het ‘n sleutel-ooreenkoms met die Amerikaanse handelsverteenwoordiger onderteken, slegs dae voor nuwe invoertariewe in werking tree. Amerika beplan om vanaf 1 Augustus die heffings op die meeste Suid-Afrikaanse uitvoere van 10-persent na 30-persent verhoog. Belangrike grondstowwe soos platinum en chroom is uitgesluit. Die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, het die ooreenkoms bevestig tydens die hantering van die departement se begroting in die Nasionale Raad van Provinsies en dit beskryf as ‘n kernbelangrike stap vorentoe om ‘n finale handelsooreenkoms te bereik:
# President Cyril Ramaphosa sê die Noord-Kaap se groenwaterstof-meesterplan is ‘n toekomstige ekonomiese kragbron, wat die middelpunt is van Suid-Afrika se hernubare energie-oorgang en noodsaaklik vir die land se langtermyn-ekonomiese groei. Ramaphosa het gepraat op ‘n vergadering met die provinsiale leierskap in Kimberley. Hy sê hy glo die plan sal nie net die plaaslike ekonomie ‘n hupstoot gee nie, maar ook nasionale ontwikkeling steun en die breër Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap-streek versterk:
# ʼn Twee-en-tagtigjarige man is gisteraand op sy kleinhoewe in die Buffelsdrift-omgewing, noord van Pretoria, vermoor nadat vier aanvallers glo sy huis binnegekom en hom aangerand het. Maroela Media berig Buffelsdrift Bewarea het in ‘n verklaring bevestig die slagoffer is Mossie Mostert. ʼn Selfoon en geld is uit die huis gesteel. Volgens die gemeenskap was Mostert ʼn geliefde inwoner en jarelange eienaar in die gebied.
Nuus uit die buiteland:
# Die Britse minister van Wetenskap en Tegnologie, Peter Kyle, sê sy land steun die toekomstige stigting van ‘n Palestynse staat, maar dis eers noodsaaklik om die lyding in Gaza te verlig en ‘n wapenstilstand tussen Israel en Hamas te bewerkstellig. Hy het aan Sky News gesê Brittanje streef ook na gunstige toestande vir ‘n langtermyn-politieke oplossing. Die Franse president, Emmanuel Macron, het vroeër gesê hulle beplan om in September by die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering ‘n Palestynse staat te erken, wat deur Israel en Amerika veroordeel is.
# Rugby: Die Curriebeker se Premierafdeling skop vanaand sewe-uur af wanneer die Pumas die Griekwas verwelkom op die Mbombela-stadion in Mpumalanga. Môremiddag drie-uur speel die Leeus en die Haaie op Ellispark in Johannesburg, en twee uur later kom Westelike Provinsie op die Kaapstad-stadion te staan teen sy aartsvyand, die Bulle. Die naweek se laaste wedstryd begin Sondagmiddag drie-uur in Wellington tussen Boland en die Cheetahs. Die Haaie is die verdedigende kampioen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-74-sent teen die dollar, 20-rand-79-sent teen die euro en 23-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 116-duisend-643-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-341-dollar-1-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-57-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….