Goeie Nuus
BULLETIN 25 Julie 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die gevierde Suid-Afrikaanse sjef, Siba Mtongana, is vereer as een van die Top 20 baanbrekers by die invloedryke Kanadese Wêreldtoekennings 2025. Die toekennings erken wêreldleiers wat verandering regoor nywerhede stimuleer. Mtongana, die aanbieder van Siba’s Table wat in meer as 150 lande uitgesaai word, het dankbaarheid vir die erkenning uitgespreek. Sy is bekend vir haar uitstekende kookvernuf en haar bydrae tot die gemeenskap. Sy het die toekenning verwelkom en gesê dit bevestig haar wêreldwye invloed en haar nederige herkoms.
# ‘n Derdejaar-LLB-student aan die Universiteit van Pretoria, Kiara Ramluckun, het die Abe Bailey-reisbeurs ontvang. Dis vir ʼn opvoedkundige toer later vanjaar na Engeland en Skotland wat alle onkoste insluit. Die reisbeurs wil jong Suid-Afrikaners se horisonne verbreed deur hulle bloot te stel aan die Verenigde Koninkryk en sy universiteite waar hulle deelneem aan debatte en besprekings oor hul onderskeie samelewings en hedendaagse kwessies. Agtien kandidate uit Suid-Afrikaanse universiteite is vir die beurs gekies.
# Die Stad Kaapstad se Bioverskeidenheids-afdeling het ‘n seekoeibul suksesvol van die Valsbaaise natuurreservaat na ‘n reservaat in Plettenbergbaai verskuif. Seekoeie is baie sensitiewe diere, en besonder moeilik om te vang en te vervoer as gevolg van hul grootte en krag, die gevaar wat hul inhou, en omdat hulle gou gespanne raak. Die onderburgemeester, Eddie Andrews, sê die metro het die afgelope tien jaar drie seekoeie suksesvol verskuif as deel van voortgesette pogings om natuurlewe te bestuur:
# Die Vergelegen-wynlandgoed in Somerset-Wes, Kaapstad, wat bekend is vir sy uitsonderlike tuine, gaan iets besonders aan blomliefhebbers bied. ‘n Halwe hektaar oranje en geel Namakwa-madeliefies skep ‘n kleurryke blomtapyt naby die Stables-restaurant. Dié vrolike blommetjies sal na verwagting tot begin volgende maand blom. Vergelegen is een van slegs 39 Internasionale Kamelia-tuine en die enigste in Afrika. Augustus is die beste tyd om dié asemrowende pienk, wit en karmosyn blomme te beleef.
# Abu Dhabi is die negende agtereenvolgende jaar amptelik aangewys as die veiligste stad ter wêreld. Dit is volgens 2025 se verslag van die globale statistiekwebwerf Numbeo. Abu Dhabi het ‘n veiligheidspunt van 85,2 uit 100 behaal. Dit word bepaal deur die siening van misdaadvlakke, ‘n veiligheidsgevoel tydens uitstappies in die nag asook kommer oor geweldsmisdaad, diefstal en diskriminasie. Doha is die tweede veiligste stad ter wêreld, gevolg deur Dubai.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….