Nuus 14:00
BULLETIN 25 Julie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Ramokgopa versoek maatskaplike beskerming op G20-vergadering as belegging in menslike kapitaal
# Die MK-party vra die speaker van die Parlement vir ‘n geheime stemming oor die wantrouemosie teen Ramaphosa
# En Iran en drie Europese lande begin hulle kern-onderhandelings in Istanbul
# Die minister van Beplanning, Monitering en Evaluering, Maropene Ramokgopa, vra wêreldwye samewerking om openbare dienste te verbeter en ontwikkeling te finansier. Sy het op die G20 se ministeriële werkgroepvergadering in Mpumalanga die belangrikheid beklemtoon van solidariteit, finansiële geregtigheid en mense-gesentreerde groei. Ramokgopa waarsku dat slegs 52,4-persent van die wêreld-bevolking maatskaplike beskerming geniet en beklemtoon dat Afrika ‘n jaarlikse verlies van 1,5-duisend-miljard rand ly weens onwettige finansiële vloei. Sy sê ontwikkeling moet op mense fokus, en nie net op beleide nie:
# Die MK-party het die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, gevra vir ‘n geheime stemming oor die mosie van wantroue teen president Cyril Ramaphosa. Die party sê ‘n geheime stemming sal verseker dat parlementslede hul grondwetlike plig vrylik en sonder vrees vir intimidasie of vergelding kan uitoefen. MK se parlementêre leier, John Hlophe, sê dit is veral belangrik gegewe die sensitiewe aard van die mosie en die potensiële politieke gevolge vir individuele lede. Hy sê ‘n geheime stemming sal die integriteit van die stemproses beskerm.
# Die polisie het die afgelope week 183 verkragtingsverdagtes in landwye operasies in hegtenis geneem, insluitend 67 gesoekte verdagtes. In KwaZulu-Natal is ‘n pastoor wat talle mense verkag het, Mandlelisa Mabhale, tot tien lewenslange vonnisse en 70-jaar tronkstraf gevonnis vir die verkragting van minderjariges en die blootstelling van kinders aan pornografie. ‘n Polisiewoordvoerder, Amanda van Wyk, sê ‘n program van 90-dae van blitsoptrede het die polisie gehelp in sy stryd teen dié misdaad:
Nuus uit die buiteland:
# Afvaardigings het in Iran se konsulaat in Istanbul, Turkye, aangekom vir regstreekse gesprekke tussen Iran en die sogenaamde E3-groep – Frankryk, Brittanje en Duitsland. Reuters berig dat senior diplomate gereed is om samesprekings met Iran te voer die eerste keer sedert Amerikaanse en Israelse aanvalle op Iranse kernaanlegte in Junie. Dit is daarop gemik om Iran se gevoel te toets vir ‘n ooreenkoms om sanksies te vermy. Iran se minister van Buitelandse Sake, Abbas Araqchi, sê Teheran se posisie is ferm en onwrikbaar, en beklemtoon dat uraanverryking sal voortgaan.
# Motorsport: Max Verstappen van Red Bull sê die afdanking van die spanbestuurder, Christian Horner, sal nie sy Formule Een-toekoms beïnvloed nie. Horner is drie dae ná die Britse Grand Prix afgedank en deur die Fransman, Laurent Mekies, vervang. Die viermalige kampioen se kontrak by Red Bull verstryk eers in 2028, maar daar is gerugte dat hy volgende jaar by Mercedes kan aansluit. Verstappen sê hy fokus net op die naweek se Belgiese Grand Prix:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-73-sent teen die dollar, 20-rand-80-sent teen die euro en 23-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 116-duisend-259-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-345-dollar-78-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-56-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….