Eko-minuut 13:30
BULLETIN 25 Julie 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Die bekende en geliefde vyfjarige jagluiperdwyfie van die Rietvlei-natuurreservaat in Pretoria, Njozi, ontvang tans gespesialiseerde sorg by die natuurlewekliniek van die Universiteit van Pretoria se Fakulteit Veeartsenykunde in Onderstepoort. Dit volg nadat tekens van kreupelheid in haar regtervoorpoot opgemerk is. X-strale het getoon dat sy vroeër twee bene in die poot gebreek het. Die spesialis kleindierchirurg, Adriaan Kitshoff, sê Njozi het Dinsdag ‘n operasie ondergaan en word gemonitor deur die span veeartse en studente by die kliniek.
# Die Stad Kaapstad se Bioverskeidenheids-afdeling het ‘n seekoeibul suksesvol van die Valsbaaise natuurreservaat na ‘n reservaat in Plettenbergbaai verskuif. Seekoeie is baie sensitiewe diere, en besonder moeilik om te vang en te vervoer as gevolg van hul grootte en krag, die gevaar wat hul inhou, en omdat hulle gou gespanne raak. Die onderburgemeester, Eddie Andrews, sê die metro het die afgelope tien jaar drie seekoeie suksesvol verskuif as deel van voortgesette pogings om natuurlewe te bestuur:
# En ten slotte: Die Vergelegen-wynlandgoed in Somerset-Wes, Kaapstad, wat bekend is vir sy uitsonderlike tuine, gaan iets besonders aan blomliefhebbers bied. ‘n Halwe hektaar oranje en geel Namakwa-madeliefies skep ‘n kleurryke blomtapyt naby die Stables-restaurant. Dié vrolike blommetjies sal na verwagting tot begin volgende maand blom. Vergelegen is een van slegs 39 Internasionale Kamelia-tuine en die enigste in Afrika. Augustus is die beste tyd om dié asemrowende pienk, wit en karmosyn blomme te beleef.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….