Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 25 Julie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Eerstens, rugby: Die Curriebeker se Premierafdeling skop vanaand sewe-uur af wanneer die Pumas die Griekwas verwelkom op die Mbombela-stadion in Mpumalanga. Môremiddag drie-uur speel die Leeus en die Haaie op Ellispark in Johannesburg, en twee uur later kom Westelike Provinsie op die Kaapstad-stadion te staan teen sy aartsvyand, die Bulle. Die naweek se laaste wedstryd begin Sondagmiddag drie-uur in Wellington tussen Boland en die Cheetahs. Die Haaie is die verdedigende kampioen.
Die nuwe hoofafrigter van die Bulle, Johan Ackermann, sê intussen ego’s sal nie op Loftus geduld word nie en elke speler moet sy plek in die span verdien. Hy het sy manne belowe dat hulle altyd sal weet waar hulle met hom staan. Ackermann wil ‘n span hê wat hard werk, en waarsku dat spelers die span eerste moet stel. Hy sê hy wil nie die direkteur van rugby wees soos sy voorganger, Jake White, nie, maar wil die afrigter wees wat sy hande op die veld vuilmaak.
# Sokker: Die hoofafrigter van Banyana Banyana, Desiree Ellis, sê sy sal haar toekoms oorweeg wanneer hulle volgende week terugkeer van die Afrikabeker-vrouetoernooi in Marokko. Die verdedigende kampioen het in die halfeindstryd deur Nigerië verloor en speel vanaand teen Ghana in die uitspeelstryd om derde plek. Nigerië en die gasvroue speel môre in die eindstryd. Ellis, wat sedert 2016 by Banyana is, erken dit sal moeilik wees om die spelers se moraal te verbeter na die halfeindronde-nederlaag en die erge beenbesering van die vleuel Gabby Salgado.
# Krieket: Engeland het ‘n eerstebeurt-agterstand van 133 lopies aan die begin van die derde dag van die vierde toets teen Indië op Old Trafford in Manchester. Kaptein Ben Stokes het die eerste keer sedert 2017 vyf paaltjies in ‘n beurt platgetrek en Indië, wat die dag op 264 vir vier hervat het, is uitgeboul vir 358. Die aanvangskolwers Ben Duckett en Zak Crawley het die aanval gelei met ‘n vennootskap van 166 en Engeland het met uitskeityd gevorder tot 225 vir twee. Die gasheer loop 2-1 voor in die reeks van vyf kragmetings.
# En motorsport: Brasilië gaan Argentinië volgende jaar vervang op die MotoGP-wedrenrooster. Die organiseerders het aangekondig die wedren op die Ayrton Senna-baan in Goiania sal die tweede van 2026 wees. Brasilië keer daarmee terug na MotoGP nadat hy tussen 1987 en 1989 wedrenne daar aangebied het. Argentinië sal weer ‘n wedren aanbied sodra ‘n nuwe baan naby Buenos Aires gebou is. Die seisoen eindig op 22 November in die Spaanse stad Valencia.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….