Nuus 11:00
BULLETIN 25 Julie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Parlement verwelkom die Valke se klopjag by Prasa
# Die bedrywighede van die Tesourie is nie deur ‘n kuberaanval beïnvloed nie
# En sokker: Banyana se afrigter sal oor haar toekoms besluit wanneer hulle uit Marokko terugkeer
# Die parlementêre gekose komitee oor Openbare Infrastruktuur het die Valke se klopjag by die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika se hoofkwartier in Braamfontein, Johannesburg, verwelkom. Die Valke het tydens die optrede beslag gelê op dokumente, skootrekenaars en selfone van Prasa se senior bestuurders, insluitend die uitvoerende hoof, Hishaam Emeran. Die Valke ondersoek bewerings van korrupsie in verband met twee tenders van 18-miljard-rand vir treinsinjaal-toerusting. Die voorsitter, Rikus Badenhorst, sê dit beklemtoon ‘n behoefte aan deursigtigheid en verantwoordbaarheid by Prasa.
# Cosatu sê die goedkeuring van die 2025/26-begroting se Toedelingswetsontwerp bring begroting-sekerheid vir die regering. Die totale regeringsuitgawes vir die jaar sal 2,3-duisend-miljard-rand beloop. Hiervan word 1,17-duisend-miljard-rand regstreeks aan nasionale departemente toegeken. Cosatu se woordvoerder, Matthew Parks, sê hulle bly bekommerd dat die begroting se dryfkrag steeds ondersteun word deur wanopvattings dat neoliberale ekonomiese beleid inklusiewe ekonomiese groei sal aanspoor:
# Die Nasionale Tesourie sê sy bedrywighede is nie geraak na ‘n kuberinbraak op die webwerf van sy infrastruktuur-verslagmodel nie. Die Tesourie sê die betrokke rekenaarbedieners is afgesluit om die omvang van die inbraak te bepaal. Hy werk saam met Microsoft om die potensiële swakhede binne die Inligtings- en Kommunikasietegnologie-omgewing teen te werk. Die Tesourie sê ook dat sy rekenaarstelsels bykans vyf-duisend-800 daaglikse aanvalle ervaar. Hy beklemtoon sy verbintenis tot kubersekerheid en die beskerming van kritieke infrastruktuurdata.
Nuus uit die buiteland:
# Die sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, António Guterres, het sy kommer uitgespreek oor die gewapende konflik tussen Thailand en Kambodja. Ten minste 15 mense is dood en meer as 100-duisend burgerlikes ontheem terwyl die twee lande vir ‘n tweede dag koppe stamp oor ‘n gebied bekend as die Smarag-driehoek, waar die grense van beide lande by Laos aansluit. Die adjunkwoordvoerder van die VN, Farhan Haq, sê die lande moet ‘n vreedsame oplossing vind:
# Sokker: Die hoofafrigter van Banyana Banyana, Desiree Ellis, sê sy sal haar toekoms oorweeg wanneer hulle volgende week terugkeer van die Afrikabeker-vrouetoernooi in Marokko. Die verdedigende kampioen het in die halfeindstryd deur Nigerië verloor en speel vanaand teen Ghana in die uitspeelstryd om derde plek. Nigerië en die gasvroue speel môre in die eindstryd. Ellis, wat sedert 2016 by Banyana is, erken dit sal moeilik wees om die spelers se moraal te verbeter na die halfeindronde-nederlaag en die erge beenbesering van die vleuel Gabby Salgado.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-69-sent teen die dollar, 20-rand-79-sent teen die euro en 23-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 115-duisend-197-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-357-dollar-47-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 68-dollar-91-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….