Nuus 16:00
BULLETIN 24 Julie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die staat sluit sy saak in die Senzo Meyiwa-moordverhoor
# Sitrus-spoorvolumes skiet die hoogte in terwyl Suid-Afrika ‘n uitvoer-hoogtepunt bereik
# En krieket: Die jong kolwers Pretorius en Brevis gaan saam met die Proteas in Australië toer
# Die staat het sy saak gesluit in die Senzo Mchunu-moordverhoor in die Hooggeregshof in Pretoria. Dis byna elf-jaar nadat die gewese sokkerkaptein en doelwagter van Bafana Bafana en Orlando Pirates doodgeskiet is in sy vriendin, Kelly Khumalo, se huis in Vosloorus, Gauteng. Die staat het die afgelope drie jaar getuienis voorgelê teen die vyf beskuldigdes en nou sy saak afgehandel. Regter Ratha Mokgoatlheng het die verhoor in Julie 2023 oorgeneem van regter Tshifhiwa Maumela. Die verdediging sal nou sy saak stel en getuies roep.
# Transnet se Haweterminale het ‘n verhoging van 16-persent aangeteken in sitrushouers wat per spoor verskeep is. Durban het sedert April 980 verkoelingseenhede ontvang wat die totaal vir die volle 2024-seisoen oortref. Sitrusuitvoere het op ‘n jaarkoers met 18-persent verbeter, met die Europese Unie en die Midde-Ooste wat die aanvraag verhoog. Transnet se Haweterminale verwag dat hulle die nasionale vooruitskatting van 106-duisend-500 houers sal bereik. Daarbenewens het nuwe toerusting op hawens werkverrigting verbeter danksy ‘n belegging van 3,4-miljard-rand.
# Die voormalige Suid-Afrikaanse ambassadeur in Amerika, Ebrahim Rasool, bestempel die land se oorweging van ‘n sanksiewetsontwerp teen Suid-Afrikaanse politieke leiers as afknouery. Hy waarsku in ‘n onderhoud met Newzroom Afrika die wetsontwerp, wat reeds deur die Huis van Verteenwoordigers se komitee op Buitelandse Sake goedgekeur is, sal Suid-Afrika negatief raak. Rasool sê dringende diplomatieke pogings is nodig om die sanksies te verhoed voor ‘n deurslaggewende stemming in die Senaat, wat in September verwag word:
# Al 49 mense op ‘n Russiese Antonov An-24-vliegtuig is vermoedelik dood toe dit vandag in die ooste van die land neergestort het. Reuters berig die vliegtuig is in die Sowjet-era gebou. ‘n Helikopter-bemanning het die brandende romp op die grond gesien en reddingspanne het na die toneel gehaas. Daar was 43 passassiers aan boord, insluitend vyf kinders, en ses bemanningslede. Die wrak is op ‘n heuwel 15-kilometer vanaf die vliegtuig se bestemming in Tynda gevind.
# Krieket: Die kolwers Lhuan-dré Pretorius en Dewald Brevis is opgeroep vir Suid-Afrika vir volgende maand se toer in Australië. Hulle speel T20’s op 10, 12 en 16 Augustus, gevolg deur ‘n eendagreeks op 19, 22 en 24 Augustus. Die Proteas se afrigter, Shukri Conrad, sê die reeks speel ‘n groot rol in hulle beplanning vir volgende jaar se T20-Wêreldbeker in Sri Lanka en Indië, asook 2027 se eendag-Wêreldbekertoernoooi in Suid-Afrika, Namibië en Zimbabwe. Die draaibouler Prenelan Subrayen is ook in albei groepe ingesluit.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-61-sent teen die dollar, 20-rand-69-sent teen die euro en 23-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 116-duisend-698-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-363-dollar-93-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-27-sent per vat
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….