Nuus 15:00
BULLETIN 24 Julie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Rasool beskuldig Amerika van afknouery en vra diplomatieke ingryping teen sanksieswetsontwerp
# Die uitvoerende hoof en mede-stigter van ‘n Suid-Kaapse natuurreservaat is die persoon wat deur ‘n olifant doodgetrap is
# En krieket: Die spanne begin vorm aanneem vir die vierde seisoen van die SA20
# Die voormalige Suid-Afrikaanse ambassadeur in Amerika, Ebrahim Rasool, bestempel die land se oorweging van ‘n sanksiewetsontwerp teen Suid-Afrikaanse politieke leiers as afknouery. Hy waarsku in ‘n onderhoud met Newzroom Afrika die wetsontwerp, wat reeds deur die Huis van Verteenwoordigers se komitee op Buitelandse Sake goedgekeur is, sal Suid-Afrika negatief raak. Rasool sê dringende diplomatieke pogings is nodig om die sanksies te verhoed voor ‘n deurslaggewende stemming in die Senaat, wat in September verwag word:
# Die Valke het skootrekenaars, telefone en dokumente van senior beamptes van die Passasierpooragentskap van Suid-Afrika in beslag geneem as deel van ‘n ondersoek in verband met twee spoorsinjaal-tenders van 18-miljard-rand. Volgens News24 het die klopjag in die hoofkantoor in Braamfontein, Johannesburg, die uitvoerende hoof, die hoof finansiële beampte, die hoof van regsdienste en die hoofverkrygingsbeampte geteiken. Die kontrakte word ondersoek oor beweerde onreëlmatighede, insluitende toekennings aan maatskappye wat nie sleutel-voldoeningsvereistes nagekom het nie. Die minister van Vervoer, Barbara Creecy, hersien ‘n verslag oor die saak.
# Die Gondwana privaat wildreservaat naby Mosselbaai in die Suid-Kaap het bevestig sy uitvoerende hoof en mede-eienaar is die persoon wat Dinsdag deur ‘n olifant doodgetrap is. Die 39-jarige FC Conradie word oorleef deur sy vrou en drie jong kinders. Hy word beskryf as ‘n geliefde en hoogsgerespekteerde persoon in die bewaringsgemeenskap wie se onwrikbare toewyding tot natuurbewaring, gemeenskapsopheffing en volhoubare toerisme ‘n langdurige uitwerking sal hê. Die plaaslike polisie het met ‘n geregtelike doodsondersoek begin.
# Die Departement van Water en Sanitasie sê hy het meer as 90-persent van die proses afgehandel om die Hammanskraal-waterstelsel in die Tshwane-metro skoon te maak en te toets. Dit sal voltooi word sodra daar genoeg water is om dit klaar te spoel. Die departement se woordvoerder, Wisane Mavasa, sê hulle besef die erns van die situasie, en verseker die Hammanskraal-gemeenskap hulle doen alles moontlik om veilige watertoevoer te verseker:
# Krieket: Die ses franchise-spanne in die SA20 begin vorm aanneem vir die vierde seisoen wat op 26 Desember begin. Die Proteas se T20-kaptein, Aiden Markram, is onderweg na die speler-veiling nadat Sunrisers Eastern Cape nie hul kaptein van die eerste drie seisoene behou het nie. Die voormalige Protea-kaptein, Faf du Plessis, gaan by Joburg Super Kings bly, terwyl die verdedigende kampioen, MI Cape Town, die dienste van Ryan Rickelton, George Linde, Corbin Bosch en Kagiso Rabada sal hê. Die veiling vind op 9 September plaas.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-61-sent teen die dollar, 20-rand-69-sent teen die euro en 23-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 116-duisend-698-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-363-dollar-93-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-27-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….