Goeie Nuus
BULLETIN 24 Julie 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die Suid-Afrikaanse rolprentmaker en seeliefhebber, Kabeer Shaik, het met die Nasionale Seereddingsinstituut saamgewerk om ‘n indrukwekkende nuwe bewusmakingsvideo te maak. Dit laat die kollig val op die NSRI se strandveiligheidskamera-projek. Dis by die Strand in Kaapstad verfilm en die aktrise Shiefaa Hendriks is daarin te sien. Andrew Ingram van die NSRI sê Shaik het sy tyd en vaardighede beskikbaar gestel om te belig hoe tegnologie en spanwerk lewens red aan die kus:
# Die nasionale kompetisie Hear Me Out het meer as 700 voorleggings in die vorm van stemposse, gedigte, briewe, video’s en kunswerke ontvang wat uitbeeld hoe dit is om jonk te wees in Suid-Afrika. Keready, ‘n jeugbeweging en deel van die Hold My Hand-veldtog, behartig ‘n parallelle tienerweergawe van die kompetisie. Katlego Selikane van KereadySA sê die stemme van die jong mense wys ‘n verenigde oproep om begrip, veiligheid en respek:
# Standard Bank het die tweede agtereenvolgende jaar saam met die Suid-Afrikaanse Toekomstrust gewerk as amptelike borg van die Vroue in die Sakewêreld-toekennings. Die toekennings vier die buitengewone prestasies van vroulike entrepreneurs wat veerkragtigheid, vernuwing en leierskap toon om Suid-Afrika se ekonomie te laat groei. Die wenner sal 500-duisend-rand ontvang om sakegroei en uitwerking te versnel. Die prys sluit ook hipermoderne rekenaarapparatuur, noodsaaklike sakehulpbronne en strategiese ondersteuning in.
# Die Eskom Ekspo vir Jong Wetenskaplikes se streekfeeste gaan hierdie naweek in Gauteng, die Oos-Kaap, Mpumalanga en die Vrystaat gehou word. Leerders gaan die kans kry om mee te ding met hul vernuwende idees, wetenskaplike navorsing en vaardighede met probleemoplossing. Terselfdertyd sal jong wetenskaplikes ‘n kans staan om ‘n verskeidenheid gesogte toekennings te wen. Dit sluit in die prys vir die beste projek deur ‘n vroulike deelnemer, beste vernuwende projek en die beste energieprojek.
# Die lang-verwagte biografiese rolprent oor Michael Jackson, Michael, sal in April volgende jaar amptelik vrygestel word. Dit sou vanjaar in Oktober gebeur, maar is vertraag weens lang naproduksieprosesse en uitgebreide heropnames. Die driemalige Oscar-benoemde John Logan het dit geskryf en die regisseur is Antoine Fuqua. Die fliek handel oor die superster se reis om die wêreld se Koning van Pop te word. Jackson se broerskind, Jaafar, vertolk die rol van sy oorlede oom, terwyl Colman Domingo en Nia Long die rolle van sy ouers, Joe en Katherine Jackson, vertolk.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….