Nuus 09:00
BULLETIN 24 Julie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Nasionale Vergadering stem in tot ‘n ad hoc-komitee om Mkhwanazi se bewerings te ondersoek
# Minister McKenzie verduidelik misleidende berigte oor die Mzansi Golden Economy-aansoekers
# En volgens ‘n verslag verskyn Trump se naam verskeie kere in die Epstein-lêers
# Die Nasionale Vergadering het die gesamentlike verslag van die portefeuljekomitees oor die Polisie en Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling aanvaar. Die verslag beveel aan dat ‘n ad hoc-komitee aangestel word om KwaZulu-Natal se polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, se bewerings te ondersoek. Die komitee moet die verslag binne 90 dae voltooi. Die voorsitter van die portefeuljekomitee oor Polisie, Ian Cameron, sê hulle het verskeie belangrike areas wat kommer wek, geïdentifiseer en die komitee sal dit deeglik moet ondersoek:
# Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, sê mediaberigte wat voorgee maatskappye op die lys van die 2025/2026 Mzansi Golden Economy Open Call -goedgekeurde projekte befondsing sal ontvang, is misleidend. Die departement sal eers kontrakte sluit met aansoekers wat goedgekeur is nadat al die toepaslike dokumente voorgelê en nagegaan is. McKenzie sê die voorlopige lys van goedgekeurde aansoekers is in die gees van deursigtigheid bekend gemaak en die departement het nog geen geld aan enige aansoeker gegee nie.
# KwaZulu-Natal se premier, Thami Ntuli, sê hy neem kennis van die ernstige aantygings teen die LUR van Gesondheid, Nomagugu Simelane, en LUR van Onderwys, Sipho Hlomuka. Simelane se familie-onderneming, Kwazi-Gugu Investments, het volgens berigte dubbele betalings van altesaam 1,42-miljoen-rand van die provinsiale Landboudepartement ontvang. Hlomuka het blykbaar diensverskaffers vir die Nasionale Skolevoedingsprogram gekies wat van manipulasie met verkryging verdink word. Die premier se woordvoerder, Lindelani Mbatha, sê die bewerings sal ondersoek word:
# The Wall Street Journal berig president Donald Trump van Amerika se naam verskyn talle kere in die Departement van Justisie se lêers oor die veroordeelde pedofiel, wyle Jeffrey Epstein. Volgens die verslag het prokureur-generaal Pam Bondi Trump in Mei ingelig dat hy in die omstrede Epstein-lêers genoem word en dat die rekords kinderpornografie insluit. Die Withuis sê die bewerings is net ʼn voortsetting van die Demokratiese Party en die liberale media se fopnuus.
# Sokker: Spanje het die agtmalige wenners Duitsland met 1-0 verslaan en die eerste keer ooit die eindstryd van die Europese Vrouekampioenskap in Switserland gehaal. Die tweemalige Ballon d’Or-wenner, Aitana Bonmati, het die wendoel in die 113de minuut aangeteken. Dis die eerste keer sedert 1997 dat Duitsland in die halfeindronde uitgeskakel word. Spanje kom Sondag in Basel teen die verdedigende kampioene van Engeland te staan in ʼn herhaling van die 2023-Wêreldbekerskouspel wat Spanje met 1-0 gewen het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-51-sent teen die dollar, 20-rand-62-sent teen die euro en 23-rand-78-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 118-duisend-326-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-383-dollar-41-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar-14-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….