Nuus 08:00
BULLETIN 24 Julie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# John Steenhuisen sê die begroting handhaaf ‘n goeie balans in die regering van nasionale eenheid
# Solidariteit sê hy het ‘n sensitiewe stadium bereik met die FlySafair samesprekings
# En tennis: Fritz en Medvedev is deur na die laaste 16 by die Washington Ope
# Die DA-leier John Steenhuisen sê nou dat die begroting aanvaar is, moet die fokus verskuif na dienslewering en die vinnige instelling van noodsaaklike hervormings om ekonomiese groei te ontsluit en werk te skep. Die party het ten gunste van die Toedelingswetsontwerp gestem wat gister in die Parlement bekragtig is. Steenhuisen sê die DA het ‘n belangrike rol gespeel om die begroting te vorm en sê hy het die ANC se voorgestelde BTW-verhoging van twee-persent gekeer:
# Die GOOD-party het dit ondersteun en sê nou moet die vennote in die regering van nasionale eenheid ophou om nog krisisse te veroorsaak. Die Nasionale Vergadering het gister die Toedelingswetsontwerp aanvaar en die regering toestemming gegee om net meer as 1,2-duisend-miljard-rand in die 2025-2026-boekjaar te bestee. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê party-politieke skuiwe in die RNE trek die aandag af en keer dat die staat die ekonomie laat groei en sy grondwetlike verpligtinge nakom om maatskaplike geregtigheid te voorsien:
# Solidariteit sê hy het ‘n sensitiewe stadium in onderhandelinge met FlySafair by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie bereik. Die vakbond verteenwoordig sowat 200 vlieëniers wat sedert Maandag staak nadat onderhandelinge oor salarisse gefaal het. Die laekoste lugdiens het vroeër ‘n jaarlikse salarisverhoging van 5,7-persent vir vlieëniers aangebied maar die vakbond eis 10,5-persent en beter werksomstandighede. Solidariteit sê die staking en uitsluitingsomstandighede gaan voort en die betrokkenes sal samesprekings môre hervat.
# Die man wat in November 2022 vier studente van die Universiteit van Idaho vermoor het, Bryan Kohberger, is tot vier keer lewenslank sonder parool gevonnis. Die 30-jarige gewese kriminologie-student het Kaylee Goncalves, Ethan Chapin, Xana Kernodle en Madison Mogen doodgesteek terwyl hulle in hul huis weg van die kampus geslaap het. Hy het skuldig gepleit as deel van ʼn ooreenkoms om die doodstraf vry te spring. Regter Steven Hippler het Kohberger ʼn gesiglose lafaard genoem:
# Tennis: Topgekeurde Taylor Fritz is deur na die laaste 16 by die Washington Ope. Die Amerikaner het die Australiër, Aleksandar Vukic geklop om sy eerste sege sedert Maart op die harde baan te behaal. Die Rus, Daniil Medvedev, het die Amerikaner Reilly Opelka maklik verslaan terwyl die Australiër, Alex de Minaur, met Yunchaokete Bu van China afgereken het. In die vroueafdeling het Maria Sakkari van Griekeland en Anna Kalinskaya van Rusland oorwinnings behaal.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-51-sent teen die dollar, 20-rand-62-sent teen die euro en 23-rand-78-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 119-duisend-103-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-378-dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar-12-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….