Nuus 17:00
BULLETIN 23 Julie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Solidariteit vra Ramaphosa om op te tree met die Amerikaanse handelskrisis wat dreig
# Die Johannesburgse Aandelebeurs se Alle Aandele-aanwyser breek deur 100-duisend punte
# En tennis: Sinner stel weer sy fiksheids-afrigter aan wat hy afgedank het na sy positiewe opkikkertoetse
# Solidariteit sê president Cyril Ramaphosa moet Suid-Afrika se gespanne verhouding met Amerika dringend herstel. Dit volg op ‘n wetsontwerp in die Kongres wat kan tot die instelling van ‘n tarief van 30-persent op Suid-Afrikaanse invoere. Solidariteit pleit by die regering om sy onverbonde status te herbevestig en saam met Amerika te werk aan sleutelkwessies, insluitend sekerheid, eiendomsregte en plaasveiligheid. Jaco Kleynhans van Solidariteit waarsku versuim om op te tree kan ‘n ernstige ekonomiese krisis ontketen:
# Die MK-party het die DA skerp gekritiseer en hom beskuldig dat hy ‘n skisofreniese party is wat onseker is of hy deel van die regering of die opposisie is. Wesley Douglas van MK het tydens die parlementêre debat oor die Toedelingswetsontwerp die hoë skuldterugbetalings gekritiseer en die regering van nasionale eenheid daarvan beskuldig dat dit grondhervorming en swart industrialisering ignoreer. Douglas sê die begroting bevoordeel die rykes terwyl burgers steeds ly:
# Voormalige hoofregter Raymond Zondo sê Suid-Afrika se stryd teen korrupsie kan nie slaag sonder sterk beskerming en aansporings vir fluitjieblasers nie. Zondo het tydens die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke se teen-korrupsie konferensie in Johannesburg gevra dat fluitjieblasers ‘n deel van die verhaalde fondse moet ontvang as hulle inligting die staat help om geld terug te kry. Hy het aangevoer dat ‘n aansporing om die waarheid te ontbloot, nie ‘n luukse is nie, maar ‘n noodsaaklikheid:
# Die Johannesburgse Aandelebeurs se Alle Aandele-aanwyser het vandag deur die belangrike mylpaal van 100-duisend punte gebreek. Die aanwyser is vanjaar byna 20-persent hoër. Die uitvoerende hoof van die JSE-groep, Leila Fourie, sê die prestasie is nie slegs ‘n syfer-mylpaal nie, maar ‘n kragtige weerspieëling van die veerkragtigheid, vernuwing en bedryfs-uitnemendheid van maatskappye wat op die beurs genoteer is. Sy sê dit wys dat beleggers steeds hul vertroue in die Suid-Afrikaanse mark en in die vermoë van genoteerde maatskappye plaas om groei aan te dryf en goeie waarde te lewer.
# Tennis: Die wêreld-nommer-een, Jannik Sinner, het weer sy vorige fiksheidsafrigter, Umberto Ferrara, aangestel wat hy verlede jaar afgedank het nadat hy positief getoets het vir die gebruik van ‘n opkikker. Sinner het sedert die onthulling van sy positiewe toetse vir die anaboliese steroïed clostebol volgehou hy is onskuldig en hy het die skuld vierkantig op sy span gepak. Sinner het Ferrara en sy fisioterapeut, Giacomo Naldi, afgedank na die onthulling van sy positiewe toetse.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-55-sent teen die dollar, 20-rand-58-sent teen die euro en 23-rand-75-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 118-duisend-en-25-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-410-dollar-1-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-71-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus………………