Nuus 13:00
BULLETIN 23 Julie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Ingenieursraad straf ‘n ingenieur oor die instorting van ‘n gebou in George
# OUTA moedig die nuwe minister van Hoër Onderwys aan om teen SETA-korrupsie op te tree
# En rugby: ‘n Groep van 37 Springbokke word aangewys vir die eerste twee Rugbykampioenskapstoetse teen die Wallabies
# Die Ingenieursraad van Suid-Afrika het ‘n ingenieur formeel aangekla en permanent gederegistreer nadat hy verbind is met die noodlottige gebou-instorting in George in die Wes-Kaap in Mei verlede jaar. Die tragedie het 34 lewens geëis en talle mense is beseer. Die raad se dissiplinêre tribunaal het die ingenieur skuldig bevind op vyf aanklagte van professionele wangedrag en die maksimum-straf opgelê. Die bevindinge is ook na die polisie verwys vir strafregtelike ondersoek. Die raad het sy verbintenis tot openbare veiligheid en ingenieurs-verantwoordbaarheid herbevestig.
# Die organisasie teen belastingmisbruik moedig die nuwe minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Buti Manamela, aan om dringend aandag te gee aan die korrupsie binne die Sektorale Onderwys- en Opleidingsowerheid. Die organisasie is bekommerd Manamela se lang geskiedenis in die departement sal nie werklike veranderings meebring nie. Stefanie Fick van OUTA sê miljarde rand gaan elke jaar verlore as gevolg van aanhoudende wanbestuur, met uitvoerende beamptes wat met korrupsie verbind word en steeds hulle posisies behou ondanks jare se ongunstige bevindinge:
# Gauteng se Gesondheidsdepartement is besig met ‘n reuse-projek om 800-miljoen bladsye van pasiëntrekords in sy 37 openbare hospitale te digitaliseer. Dié projek het in die Chris Hani Baragwanath Akademiese Hospitaal in Soweto begin waar 800-duisend lêers van pasiënte sover gedigitaliseer is. Die LUR vir Gesondheid, Nomantu Nkomo-Ralehoko, sê dit is deel van ‘n hervormingsveldtog om doeltreffendheid, pasiëntsorg en toerekenbaarheid by openbare hospitale te verbeter:
# Die eerste groep Kaapstadse tieners wat in Spanje gestrand was waar hulle aan die gesogte Donostibeker-sokkertoernooi deelgeneem het, sal vanmiddag terugkeer na Suid-Afrika. Die spelers van die BT-sokkerakademie het suksesvol aan die kompetisie deelgeneem, maar vlugte huis toe kon nie uit die pakketprys betaal word nie. Geld vir hul vliegkaartjies is ingesamel deur skenkings van die Wes-Kaapse regering en lede van die publiek. Die gestrande groep wat nou uit Portugal sal vlieg, sluit 25 kinders tussen 13 en 18 jaar oud in en drie afrigters.
# Rugby: Springbokafrigter Rassie Erasmus het ‘n sterk groep van 37 spelers aangewys vir die eerste twee Rugbykampioenskapstoetse teen Australië. Dit sluit 24 Wêreldbeker-wenners in en vyf spelers wat onlangs hulle toetsbuiging gemaak het. Hulle is Ethan Hooker, Asenathi Ntlabakanye, Boan Venter, Marnus van der Merwe en Cobus Wiese. Lukhanyo Am, Faf de Klerk, Makazole Mapimpi, Salmaan Moerat, Evan Roos, Neethling Fouché en Vincent Tshituka is op bystand. Die Springbokke en die Wallabies speel op 16 Augustus in Johannesburg en ‘n week later in Kaapstad.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-53-sent teen die dollar, 20-rand-57-sent teen die euro en 23-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 118-duisend-175-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-431-dollar-45-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-67-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….