Nuus 12:00
BULLETIN 23 Julie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die eerste groep Kaapstadse tieners wat in Europa gestrand was keer terug huis toe
# Die adjunpresident van die Patriotic Alliance ontken hy’s bevriend met ‘n moordverdagte
# En Katar stel belang om 2036 se Olimpiese Spele aan te bied
# Die eerste groep Kaapstadse tieners wat in Spanje gestrand was waar hulle aan die gesogte Donostibeker-sokkertoernooi deelgeneem het, sal vanmiddag terugkeer na Suid-Afrika. Die spelers van die BT-sokkerakademie het suksesvol aan die kompetisie deelgeneem, maar vlugte huis toe kon nie uit die pakketprys betaal word nie. Geld vir hul vliegkaartjies is ingesamel deur skenkings van die Wes-Kaapse regering en lede van die publiek. Die gestrande groep wat nou uit Portugal sal vlieg, sluit 25 kinders tussen 13 en 18 jaar oud in, en drie afrigters.
# Die adjunkpresident van die Patriotic Alliance, Kenny Kunene, het ontken dat hy bevriend is met die sakeman en moordverdagte, Katiso KT Molefe, wat aangekeer is in verband met die moord op DJ Sumbody in 2022. Die DA dring aan op sy bedanking. Kunene het aan SABC News bevestig dat hy Molefe se huis besoek het om ‘n eksklusiewe onderhoud te bewerkstellig vir sy aanlyn platform, African News Global, wat herleef deur jong mediakundiges. Hy sê die ontmoeting was suiwer om joernalistieke redes:
# Die Landdroshof in Polokwane, Limpopo, het die moordsaak teen nege amptenare van Korrektiewe Dienste se plaaslike gevangenis tot 21 Augustus uitgestel vir verdere ondersoek. Hulle is in hegtenis geneem ná die dood van ‘n gevangene wat na bewering verlede jaar aangerand is en later aan sy beserings beswyk het. ‘n Polisiewoordvoerder, Malesela Ledwaba, sê die beskuldigdes is tans almal uit op borgtog van ‘n duisend rand elk:
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse oudpresident, Barack Obama, het president Donald Trump se beskuldigings verwerp dat hy ‘n staatsgreep wou reël ná Trump se eerste verkiesingsoorwinning in 2016. Trump beweer Obama wou sy oorwinning oor Hillary Clinton ondermyn deur bewyse van Russiese inmenging te versin. Obama sê hy skenk gewoonlik nie aandag aan die gedurige onsin en waninligting uit die Withuis nie, maar hierdie bewerings is erg genoeg vir reaksie. Hy sê dié bisarre bewerings is belaglik en ‘n swak poging om die aandag af te lei.
# Olimpiese Spele: Katar toon belangstelling om die Somer- en Paralimpiese Spele in 2036 aan te bied. Die land se Olimpiese Komitee bespreek tans die verkiesingsproses met die Internasionale Olimpiese Komitee, en sê hulle wil die potensiaal van die Arabiese jeug op die wêreldverhoog tentoonstel nadat hulle in 2022 die Wêreldbeker-sokkertoernooi aangebied het. Sky Sports berig dat die Golfnasie teengestaan kan word deur sy buurland, Saoedi-Arabië, wat die sokkertoernooi in 2034 aanbied, terwyl Indië ook moontlik kan belangstel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-57-sent teen die dollar, 20-rand-63-sent teen die euro en 23-rand-79-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 118-duisend-452-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-426-dollar-22-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-72-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….