Nuus 11:00
BULLETIN 23 Julie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die adjunkminister van Finansies beklemtoon die belangrikheid van die Wysigingswetsontwerp op Eskom se Skuldverligting
# Die MK-party wil hê twee LUR’e in KwaZulu-Natal moet bedank oor korrupsiebewerings
# En Barack Obama verwerp Donald Trump se bewerings van ‘n staatsgreep tydens 2016 se verkiesing
# Die adjunkminister van Finansies, David Masondo, sê die skuldverligtingsprogram het Eskom ‘n balansstaat gegee om meer geld te bestee om kragvoorsiening te verbeter. Die Nasionale Vergadering het gister die Wysigingswetsontwerp op Eskom-skuldverligting bekragtig. Die wetsontwerp is die jongste wetgewing wat skuldoordrag tussen Eskom en die staat toelaat sodat die staat 250-miljoen-rand van Eskom se skuld kan oorneem. Masondo sê dis ʼn reddingsboei vir Eskom:
Die DA eis intussen dat Eskom se raad en bestuurders aan die Parlement rekenskap gee vir die betaling van een-miljard-rand aan die Franse kernkragmaatskappy, Framatome, op grond van ‘n hofbevel. Die hof het bevind Eskom het opdrag gegee dat die vervanging van drie stoomopwekkers by die Koeberg-kernkragsentrale in Kaapstad opgeskort word. Kevin Mileham van die DA sê dié rampspoedige situasie is deel van ‘n groter patroon van finansiële wanbestuur by Eskom:
# Die MK-party eis die onmiddellike bedanking van KwaZulu-Natal se LUR vir Gesondheid, Nomagugu Simelane, en LUR vir Onderwys, Sipho Hlomuka. Simelane se familie-onderneming, Kwazi-Gugu-beleggings, het volgens berigte dubbele betalings van altesaam 1,42-miljoen-rand van die provinsiale Landboudepartement ontvang. Hlomuka het blykbaar diensverskaffers vir die Nasionale Skolevoedingsprogram gekies wat van manipulasie met bedenklike verkryging verdink word. MK sê die Valke en die Openbare Beskermer moet dringend ondersoek instel na alle staatsfondse aan Kwazi-Gugu-beleggings en enige ander instellings wat met die twee LUR’e verbind word.
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse oudpresident, Barack Obama, het president Donald Trump se beskuldigings verwerp dat hy ‘n staatsgreep wou reël ná Trump se eerste verkiesingsoorwinning in 2016. Trump beweer Obama wou sy oorwinning oor Hillary Clinton ondermyn deur bewyse van Russiese inmenging te versin. Obama sê hy skenk gewoonlik nie aandag aan die gedurige onsin en waninligting uit die Withuis nie, maar hierdie bewerings is erg genoeg vir reaksie. Hy sê dié bisarre bewerings is belaglik en ‘n swak poging om die aandag af te lei.
# Olimpiese Spele: Katar toon belangstelling om die Somer- en Paralimpiese Spele in 2036 aan te bied. Die land se Olimpiese Komitee bespreek tans die verkiesingsproses met die Internasionale Olimpiese Komitee, en sê hulle wil die potensiaal van die Arabiese jeug op die wêreldverhoog tentoonstel nadat hulle in 2022 die Wêreldbeker-sokkertoernooi aangebied het. Sky Sports berig dat die Golfnasie teengestaan kan word deur sy buurland, Saoedi-Arabië, wat die sokkertoernooi in 2034 aanbied, terwyl Indië ook moontlik kan belangstel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-58 sent teen die dollar, 20-rand-65-sent teen die euro en 23-rand-80 sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 118-duisend-520 dollar. Die prys van goud is drie-duisend-427-dollar-58-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 68-dollar-31-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….