Nuus 08:00
BULLETIN 23 Julie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die adjunkpresident van die PA is geskors oor sy beweerde bande met ‘n moordsindikaat
# Die DA verwelkom die skorsing van Andrew Chauke
# En die heavy metal-ikoon Ozzy Osbourne is op 76-jarige ouderdom oorlede
# Die Patriotic Alliance se leier, Gayton McKenzie, het die party se adjunkpresident Kenny Kunene 30 dae op verlof geplaas. Dit volg nadat Kunene, wat ook Johannesburg se burgemeesterskomiteelid vir Vervoer is, by ‘n verdagte in die moord op Oupa Sefoka, ook bekend as DJ Sumbody, se huis in Sandton opgemerk is. Kunene ontken dat hy die moordbeskuldigde, Katiso “TK” Molefe, ken en sê hy was toevallig op die eiendom toe Molefe Maandag gearresteer is. McKenzie sê hy glo Kunene is onskuldig:
# Eskom sê twee kontraktuele geskille met Framatome, die kontrakteur wat die stoomopwekker by die Koeberg-kernkragaanleg moet vervang, word deur prosesse hanteer waarop ooreengekom is. Die Wes-Kaapse Hooggeregshof het die kragverskaffer opdrag gegee om die Franse kernenergie-maatskappy sowat een-miljard-rand te betaal oor die staking van werk in 2022 om drie stoomopwekkers by Koeberg te vervang. Eskom-woordvoerder Daphne Mokwena sê onlangse mediaberigte het blykbaar twee aparte regsprosesse verwar:
# Die DA verwelkom president Cyril Ramaphosa se besluit om die Suid-Gautengse direkteur van Openbare Vervolging, Andrew Chauke, te skors hangende ʼn ondersoek na sy bevoegdheid om die amp te beklee. Hy is al jare lank die middelpunt van bewerings dat hy die Nasionale Vervolgingsgesag as wapen gebruik om die polities magtige en korrupte te beskerm. Glynnis Breytenbach van die DA sê Chauke wat deur oudpresident Jacob Zuma aangestel is, het korrupte persone beskerm en baie vervolgings teen elemente van staatskaping vertraag.
# Tennis: Die Brit, Cameron Norrie, het die tweede gekeurde Lorenzo Musetti van Italië verslaan om die Washington Ope se ronde van 16 te haal. Die 29-jarige Norrie takel nou die 14de gekeurde Amerikaner, Brandon Nakashima. Die Chinese kwalifiseerder, Wu Yibing, het die Fransman Gael Monfils geklop in sy eerste toervlak-sege sedert verlede jaar. Ben Shelton van Amerika het met sy landgenoot, Mackenzie McDonald, afgereken. In die vroue-afdeling het die 45-jarige Amerikaner, Venus Williams, in haar eerste enkelspelwedstryd in 16 maande, haar landgenoot, Peyton Stearns, verslaan.
# Die sanger wat bekend gestaan het as die vader van Britse heavy metal, Ozzy Osbourne, is dood ná ‘n stryd met Parkinson se siekte. Hy was 76. Sy dood volg net twee weke nadat hy met sy groep Black Sabbath ‘n afskeidskonsert in sy tuisdorp Birmingham in Engeland gehou het. Osbourne, ook bekend as die Prins van Duisternis, het ook bekendheid verwerf deur die MTV-realiteitsreeks The Osbournes, wat op die rock-ster se gesinslewe gefokus het. Sy familie sê Osbourne is oorlede omring deur liefde.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-55 sent teen die dollar, 20-rand-61-sent teen die euro en 23-rand-73 sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 119-duisend-078 dollar. Die prys van goud is drie-duisend-324-dollar-75-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar-04-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….