Nuus 18:00
BULLETIN 22 Julie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Oos-Kaapse politikus word in Komani vermoor
# Die MK-party dien ‘n mosie van wantroue in teen Ramaphosa oor die krisis binne die Polisiediens
# En ‘n olifant trap ‘n werknemer dood in ‘n privaat natuurreservaat naby Mosselbaai
# Die hoofsweep van die Emalahleni plaaslike munisipaliteit in die Oos-Kaap, Xoliseka Lali, is in Komani doodgeskiet. Lali was ook die hoof van die owerheid se Infrastruktuur-portefeulje. Sy liggaam is in die slaapkamer ontdek met veelvuldige skietwonde aan die bolyf en rug. Die Oos-Kaapse polisie het ‘n amptelike ondersoek van stapel gestuur, en geen verdagtes is tot dusver in hegtenis geneem nie. Die motief is nog nie bekend nie.
In Gauteng vra die polisie die publiek vir inligting oor Hlanganani Aggriper Mncwango, die tweede verdagte wat gekoppel is aan die moord op die die hoofouditeur van Ekurhuleni, Mpho Mafole. ‘n Verdagte sal môre in die Kemptonparkse Landdroshof verskyn. Mafole is verlede maand doodgeskiet toe hy op die R23 gery het. Hy was besig om ‘n tekort van twee-miljard-rand aan elektrisiteitsinkomste te ondersoek. Die woordvoerder van die Gautengse polisie, Dimakatso Nevhuhulwi, het bevestig dat ‘n lasbrief vir Mncwango se inhegenisneming uitgereik is en het hom aangemoedig om homself oor te gee.
# Die MK-party het ‘n mosie van wantroue teen president Cyril Ramaphosa ingedien omdat hy versuim het om die minister van Polisie, Senzo Mchunu, af te dank en kwesbare burgers te beskerm. Die party vra ‘n spesiale sitting van die Parlement binne twee weke om die mosie te bespreek en daaroor te stem. MK se hoofsweep, Colleen Makhubele, beskuldig Ramaphosa dat hy bewerings van politieke inmenging in die Suid-Afrikaanse Polisiediens ignoreer, die ekonomie swak bestuur, en nie aandag gee aan hoë misdaadvlakke nie:
# ‘n Olifant het ‘n werknemer doodgetrap in ‘n private wildreservaat buite Mosselbaai in die Suid-Kaap. Mossel Bay Advertiser berig ‘n plaaslike polisiewoordvoerder, Kappie Kapp, sê die voorval het in die Gondwana-reservaat plaasgevind. Volgens Kapp is nooddienste ontbied, maar is die 39-jarige man op die toneel dood verklaar. Die olifant is uit die gebied verwyder. Die polisie het ‘n geregtelike ondersoekdossier geopen.
# Sokker: Die afrigter van Nigerië se Super Falcons, Justin Madugu, sê hulle gaan daarop fokus om die titel by Banyana Banyana af te neem en glo hulle is die gunsteling om te wen. Die twee lande pak mekaar vanaand in die halfeindstryd van die Afrikabeker-vrouetoernooi in Marokko. Nigerië, wat die toernooi al jare lank oorheers, probeer om dit ‘n tiende keer te wen terwyl Suid-Afrika probeer om die derde agtereenvolgende keer in die eindstryd te speel. Banyana se afrigter, Desiree Ellis, sê daar sal altyd druk wees:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-60-sent teen die dollar, 20-rand-60-sent teen die euro en 23-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 118-duisend-254-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-420-dollar-77-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-89-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….