Goeie Nuus
BULLETIN 22 Julie 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Span Suid-Afrika het geskiedenis gemaak op die pas-afgelope Internasionale Wiskunde-olimpiade in Australië met hul beste vertoning in meer as 20 jaar. Vyf van die ses leerders wat die land verteenwoordig het, het met ‘n bronsmedalje huis toe gekom. Die sesde een spog met ʼn welverdiende eervolle vermelding. Vyf van die leerders is uit die Wes-Kaap en die sesde een, Yian Xu van Redhill High in Johannesburg, is vereer as Afrika se beste vroulike wiskundestudent vir hoërskole.
Mense het intussen skeppende modelle van Kunsmatige Intelligensie deur Google en Open-A-I uitoorlê op olimpiade in Queensland. Nie een van die modelle kon volpunte behaal nie, terwyl vyf jongmense dit wel kon doen op die jaarlikse kompetisie vir deelnemers jonger as 20. Google sê ‘n gevorderde weergawe van sy Gemini-kletsbot het vyf van die ses wiskundeprobleme opgelos. Dit is ‘n punt van 35 uit ‘n moontlike 42, wat die eerste gouemedalje-punt is. Sowat tien-persent van die deelnemers het goue medaljes gewen.
# Die Walter Sisulu-universiteit het die GreenGrow-projek bekend gestel, wat ‘n interdissiplinêre stedelike landbou-projek is. Die projek wat voortbou op die #StretchMyRand-beweging, rus studente toe met praktiese vaardighede in volhoubare voedselproduksie. Die universiteit sê studente word aangemoedig om stedelike landboustelsels te ontwerp en hulle eie kos te kweek, en hulle kennis oor dissiplines te deel. Hy voeg by GreenGrow bemagtig ook studente om behoeftes in hulle gemeenskappe te identifiseer, en oplossings in te stel wat veerkragtigheid en ondernemingsgees bevorder.
# ʼn Gesamentlike uitstalling, Artefacts, met werke van Lothar Böttcher en Caitlin Greenberg, open Saterdag in die Pretoriase Kunsmuseum. Albei kunstenaars wat bekend is vir hulle passie en gespesialiseerde gebruik van glas in hul kunswerke, is oudstudente van die Tshwane Universiteit vir Tegnologie. Die universiteit sê Böttcher en Greenberg ondersoek in hierdie uitstalling hulle innerlike stemme, persoonlike kwessies en filosofieë, en nooi besoekers uit om die ruimte deur ʼn vierde dimensie te beleef − een wat geskoei is op herinnering, emosie en beliggaamde teenwoordigheid.
# En ten slotte: SANParke sê die Knysna-olifant, wat op ‘n plaas in die Knysna-woud opgemerk is, het opwinding en trots regoor die Tuinroete en elders veroorsaak. Die Knysna-olifant, Loxodonta Africana, is dieselfde spesie wat elders in Suid-Afrika voorkom. SANParke se woordvoerder, JP Louw, sê hulle hou haar al lank met versteekte kameras dop, wat haar teenwoordigheid elke paar weke vasvang sonder om haar natuurlike gedrag te versteur:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….