Nuus 08:00
BULLETIN 22 Julie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC verwelkom die nuwe leierskap by die Departement van Hoër Onderwys
# President Ramaphosa skors die Gautengse direkteur van Openbare Vervolging, Andrew Chauke
# En die personeel van die Wêreldgesondheidsorganisasie is deur Israel in Gaza aangeval
# Die ANC verwelkom die aanstelling van Buti Manamela as minister van Hoër Onderwys en Opleiding en sê hy is ‘n ervare leier met sterk bande met die jeug en studentebeweging. Sy aanstelling volg nadat president Cyril Ramaphosa Nobuhle Nkabane afgedank het te midde van bewerings van korrupsie met die aanstelling van voorsitters op SETA-rade. Die ANC-woordvoerder, Mahlengi Bhengu-Motsiri, het aan Newzroom Afrika gesê hulle het volle vertroue in Manamela en adjunkminister Nomusa Dube-Ncube se leierskap:
Die MK-party sê ook Ramaphosa se besluit om Nkabane af te dank, was nodig en moes lankal gebeur het. Mnqobizitha Msezane van die MK-party sê Buti Manamela se aanstelling as nuwe minister sal die sektor hervorm:
# President Cyril Ramaphosa het Suid-Gauteng se direkteur van Openbare Vervolging, Andrew Chauke, geskors hangende ʼn ondersoek na sy bevoegdheid om die amp te beklee. Hy is al jare lank die middelpunt van bewerings dat hy die Nasionale Vervolgingsgesag as wapen gebruik om die polities magtige en korrupte te beskerm. Ramaphosa sê dit sal die NVG se reputasie benadeel as Chauke aanbly as direkteur van Openbare Vervolging terwyl hy ernstige beskuldigings in die gesig staar.
# Die Wêreldgesondheidsorganisasie sê Israel se weermag het Maandag sy personeel se woning en hoofpakhuis in Deir al-Balah, Gaza, aangeval. Die weermag het die perseel binnegegaan en vroue en kinders gedwing om te voet na Al-Mawasi te gaan. Hy sê manlike personeel en gesinslede moes hulle klere uittrek, is geboei, ondervra en gesif. Twee personeellede en twee gesinslede is aangehou, maar drie is later vrygelaat. Een personeellid is steeds in aanhouding. Die WGO eis die persoon se onmiddellike vrylating en beskerming vir al sy personeel.
# Tennis: Die Kanadese Ope in Toronto sal sonder ʼn paar groot name moet voortgaan nadat Jannik Sinner, Carlos Alcaraz en Novak Djokovic onttrek het. Sinner, die wêreld-nommer-een wat vroeër die maand op Wimbledon geseëvier het, sê hy moet voorkeur gee aan sy gesondheid. Alcaraz, met ʼn rekord van 48-6 hierdie seisoen, sê hy het spierprobleme en moet fisies en geestelik herstel vir wat voorlê. Die viermalige kampioen, Djokovic, het nog altyd gesê hy fokus op Grand Slams.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-61-sent teen die dollar, 20-rand-59-sent teen die euro en 23-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 116-duisend-916-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-390-dollar-26-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….