Goeie Nuus
BULLETIN 21 Julie 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# ‘n Professor in Opvoedkunde aan die Universiteit Stellenbosch, Jonathan Jansen, is een van 92 vooraanstaande akademici wat as genoot van die Britse Akademie verkies is. Die akademici het erkenning ontvang vir hul uitstaande bydraes tot die geestes- en sosiale wetenskappe. Vanjaar is 58 nuwe genote uit 25 universiteite reg oor die Verenigde Koninkryk gekies saam met 30 internasionale genote uit onder meer Suid-Afrika, Amerika, Ierland, Australië en Frankryk. Jansen sê dis die grootste eer vir ‘n akademikus om dié gesogte genootskap te ontvang.
# Die Dramastudente-fees van die Universiteit van Pretoria se Kunsskool begin vandag in die Lier- en Bok-teater. Hierdie vyfdaagse fees vier talent, vreeslose storievertelling en onvergeetlike vertonings deur die volgende geslag teater-geesdriftiges. Die universiteit sê die vertonings sal spog met die uitnemende standaard van die Dramaskool en vele geleenthede wat aan sy gegradueerdes beskikbaar is. Dit word vertoon in die talle unieke rolle wat die studente sal vertolk − van toneelspel en regie tot die tegniese span se verantwoordelikhede.
# Die Universiteit van Limpopo het met behulp van sy Fakulteit vir Fisika en Minerale Wetenskappe, slim-TV’s aan drie hoërskole geskenk as deel van ‘n groter poging om tegnologie in onderwys te integreer. Dit is in vennootskap met die Astronomy2024 Legacy-projek. Die skole is St Bede’s High School, N’wanati High School en die Mafumani Secondary School. Die universiteit sê die projek is gemik op die versterking van onderrig in wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde in skole met gebrekkige hulpbronne, asook landelike skole.
# Een van die Griekse eilande, Páros, is op die Travel and Leisure-toekennings as die wêreld se beste eiland aangewys. Die eiland het tydens die Cycladiese beskawing beroemd geword vir sy Pariese marmer wat in meesterstukke soos Venus de Milo en Nike van Samothrace gebruik is. Travel and Leisure se lesers sê Páros se geskiedkundige argitektuur, naglewe en goeie seilplankry-toestande is die beste in die wêreld. Palawan in die Filippyne is tweede en Bali in Indonesië derde.
# En ten slotte: Die nuwe Superman-fliek was die tweede agtereenvolgende naweek die Noord-Amerikaanse lokettreffer. David Corenswet vertolk die rol van Superman en Rachel Brosnahan is Lois Lane. Universal se Jurassic World Rebirth is steeds in die tweede plek, met Sony se I Know What You Did Last Summer in sy eerste naweek op nommer drie. Nog ‘n nuweling, Paramount se geanimeerde avontuur Smurfs, het in die vierde plek geopen met Brad Pitt se F1: The Movie, wat die top vyf afrond as Apple se fliek met die hoogste inkomste tot nog toe.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….