Nuus 13:00
BULLETIN 21 Julie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Activists and Citizens Forum sê dis te laat vir ANC om Jacob Zuma nou ‘n verraaier te noem
# Onderhoude vir poste by die Verkiesingskommissie begin vandag
# En krieket: Die volgende drie eindstryde van die Wêreldtoetskampioenskap vind ook in Engeland plaas
# Die Activists and Citizens Forum sê die ANC word nou in eie munt terugbetaal, want dis nou te laat om te besef sy oudpresident, Jacob Zuma, is ‘n verraaier. Die party het reageer ná Zuma Marokko se soewereiniteit oor Wes-Sahara erken het. Die forum se woordvoerder, Dennis Bloem, sê die ANC het vir die mense van Suid-Afrika gelieg:
# Onderhoude vir drie vakante poste by die Verkiesingskommissie begin vandag in Midrand, Gauteng. Die paneel bestaan onder meer uit hoofregter Mandisa Maya, die voorsitter van die Menseregtekommissie, Chris Nissen, die voorsitter van die Kommissie vir Geslagsgelykheid, Nthabiseng Sepanya-Mogale, en openbare beskermer Kholeka Gcaleka. Onder diegene op die kortlys is die huidige voorsitter van die kommissie, Mosotho Moepya, en ‘n regter van KwaZulu-Natal, Dhaya Pillay. Een van die rolle moet deur ‘n regter van die Hooggeregshof gevul word. President Cyril Ramaphosa sal die aanstellings doen vir ‘n termyin van sewe jaar.
# Solidariteit beskuldig FlySafair dat hy weier dat die Kommissie van Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie ingryp in die vlieënier-staking wat vanoggend begin het. Die lugredery het reeds meer as 20 vlugte afgestel weens die arbeidsoptrede. Die vakbond eis ‘n salarisverhoging van 10,5-persent vir sy lede terwyl die laekoste-redery 5,7-persent aanbied. Helgard Cronjé van Solidariteit sê die vlieëniers vra bloot dat hulle salarisse reggestel word ná die besnoeiings tydens die Covid-19-pandemie:
# Krieket: Die Internasionale Krieketraad het bevestig dat Engeland die gasheer sal wees van die volgende drie eindstryde van die Wêreldtoetskampioenskap in 2027, ’29 en ’31. Die eerste drie eindstryde het almal in Engeland plaasgevind, die jongste verlede maand toe Suid-Afrika Australië op Lords geklop het om as kampioen gekroon te word. Die uitvoerende hoof van die Engelse en Walliese Krieketraad, Richard Gould, sê dis ‘n bewys van die passie wat aanhangers vir die geliefde formaat van die spel het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-71-sent teen die dollar, 20-rand-62-sent teen die euro en 23-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 118-duisend-865-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-365-dollar-58-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-29-sent per vat.
# En laastens, die nuwe Superman-fliek was die tweede agtereenvolgende naweek die Noord-Amerikaanse lokettreffer. David Corenswet vertolk die rol van Superman en Rachel Brosnahan is Lois Lane. Universal se Jurassic World Rebirth is steeds in die tweede plek, met Sony se I Know What You Did Last Summer in sy eerste naweek op nommer drie. Nog ‘n nuweling, Paramount se geanimeerde avontuur Smurfs, het in die vierde plek geopen met Brad Pitt se F1: The Movie, wat die top-vyf afrond as Apple se fliek met die hoogste inkomste tot nog toe.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….