Nuus 12:00
BULLETIN 21 Julie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Solidariteit beskuldig FlySafair dat hy KVBA-bemiddeling geweier het om die vlieënierstaking te verhoed
# 104-miljoen-rand word toegeken aan Gautengse veeartsenydienste om bek-en-klouseer te beveg
# En OUTA wil hê minister Creecy moet die geldigheid van rybewyskaarte tot 10-jaar verleng
# Solidariteit beskuldig FlySafair dat hy weier dat die Kommissie van Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie ingryp in die vlieënier-staking wat vanoggend begin het. Die lugredery het reeds meer as 20 vlugte afgestel weens die arbeidsoptrede. Die vakbond eis ‘n salarisverhoging van 10,5-persent vir sy lede terwyl die laekoste-redery 5,7-persent aanbied. Helgard Cronjé van Solidariteit sê die vlieëniers vra bloot dat hulle salarisse reggestel word ná die besnoeiings tydens die Covid-19-pandemie:
# Die Gautengse Landboudepartement het 104-miljoen-rand aan sy veeartsenydienste toegeken om ondersteuning vir dieregesondheid en bioverskeidenheid te bevorder nadat bek-en-klouseer in die land uitgebreek het. Minstens 32 aktiewe gevalle is in Gauteng aangemeld. Die LUR vir Landbou, Vuyiswa Ramogopa, sê die provinsie het ʼn omvattende inentingsprogram teen bek-en-klouseer:
# Die Organisasie Teen Belastingmisbruik vra die minister van Vervoer, Barbara Creecy, om die geldigheid van alle rybewys-kaarte tot tien jaar te verleng. Die departement het tans ‘n agterstand van 690-duisend rybewyse nadat die land se enigste kaartdrukker vroeër die jaar gebreek het. OUTA wil ook hê die minister moet mense van boetes kwytskeld en tydelike rybewyse aan diegene uitreik wie se nuwe kaarte weens die agterstand vertraag word.
# Rugby: Owen Farrell gaan môre die Britse en Ierse Leeus aanvoer teen ‘n Eerste Nasies- en Pasifika-vyftiental in Melbourne. Dit is die gewese Engelse kaptein se eerste verskyning in ‘n opdrafspan op die toer. Hy lei ‘n span wat die Walliese kragman Jac Morgan en die huidige Engelse kaptein, Jamie George, insluit. Alex Mitchell sal sy merkwaardige prestasie voortsit deur sover in elke wedstryd op die toer te speel nadat hy op die bank gekies is saam met Ben Earl en Marcus Smith.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-70-sent teen die dollar, 20-rand-61-sent teen die euro en 23-rand-80-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 119-duisend-291-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-364-dollar-96-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-44-sent per vat.
# En laastens: Een van die Griekse eilande, Páros, is op die Travel and Leisure-toekennings as die wêreld se beste eiland aangewys. Die eiland het tydens die Cycladiese beskawing beroemd geword vir sy Pariese marmer wat in meesterstukke soos Venus de Milo en Nike of Samothrace gebruik is. Travel and Leisure se lesers sê Páros se geskiedkundige argitektuur, naglewe en goeie seilplankry-toestande is die beste in die wêreld. Palawan in die Filippyne is tweede en Bali in Indonesië derde.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….