Nuus 11:00
BULLETIN 221 Julie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa sê Operasie Vulindlela maak aansienlike vordering
# Meer as 20 FlySAfair-vlugte word gekanselleer weens die vlieënier-staking
# En, ‘n CNN-meningspeiling toon die meeste Amerikaners dink Trump se deportasiebeleid gaan te ver
# President Cyril Ramaphosa sê die regering het deur Operasie Vulindlela aansienlike vordering gemaak om die weg te baan vir vinniger, insluitende en volhoubare groei en werkskepping. Operasie Vulindlela is ‘n regeringsveldtog om vordering in ekonomiese hervorming te versnel. Die president sê in sy weeklikse nuusbrief vordering is gemaak in plaaslike regering, energie-voorsiening, spoorweë en hawens, en die visumstelsel. Ramaphosa sê die wêreld het ekonomiese probleme, maar die land se ekonomiese hervormingsagenda sal toestande skep vir groter groei en belegging.
# FlySafair sê hy moes vanoggend meer as 20 vlugte afstel as gevolg van vlieëniers se staking en skedulering. Dit volg al het die lugredery passasiers gister verseker die begin van die staking sal nie bedrywighede raak nie. Solidariteit eis ʼn salarisverhoging van 10,5-persent vir vlieëniers terwyl die redery 5,7-persent aanbied. FlySafair se bemarkingshoof, Kirby Gordon, het aan eNCA gesê hulle funksioneer grootliks volgens skedule:
# ActionSA in Gauteng eis die onmiddellike ontplooiing van gespesialiseerde misdaadintelligensiespanne in Olievenhoutbosch. Dit volg nadat ses mense Vrydagaand by ʼn taverne in die Choba-plakkerskamp doodgeskiet is. Die skietery hou volgens berigte verband met ʼn bende-oorlog tussen burgers van Lesotho en Mosambiek. ActionSA se woordvoerder, Zwelithini Mtshali, sê die tragedie is ʼn duidelike teken van die toenemende wetteloosheid wat gemeenskappe teister:
Nuus uit die buiteland:
# ʼn Nuwe meningspeiling van CNN toon 55-persent Amerikaners reken president Donald Trump gaan te ver wat die deportasie van onwettige immigrante betref. Volgens berigte het die meeste immigrante wat tussen Oktober en Mei in Amerika in hegtenis geneem is, nie ernstige misdade gepleeg nie. Intussen sê 46-persent deelnemers Trump se immigrasiebeleide maak Amerika ʼn veiliger plek. ʼn Meerderheid van 57-persent sê ook hulle is gekant teen die oprigting van nuwe aanhoudingsplekke wat tot 100-duisend ongedokumenteerde immigrante kan huisves.
# Rugby: Owen Farrell gaan môre die Britse en Ierse Leeus aanvoer teen ‘n Eerste Nasies- en Pasifika-vyftiental in Melbourne. Dit is die gewese Engelse kaptein se eerste verskyning in ‘n opdrafspan op die toer. Hy lei ‘n span wat die Walliese kragman Jac Morgan en die huidige Engelse kaptein, Jamie George, insluit. Alex Mitchell sal sy merkwaardige prestasie voortsit deur sover in elke wedstryd op die toer te speel nadat hy op die bank gekies is saam met Ben Earl en Marcus Smith.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-68 sent teen die dollar, 20-rand-58-sent teen die euro en 23-rand-76 sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 119-duisend-391 dollar. Die prys van goud is drie-duisend-369-dollar-57-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 68-dollar-53-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….