Nuus 08:00
BULLETIN 21 Julie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# OUTA doen ‘n beroep op ‘n gestandaardiseerde betaalskaal vir bestuurders van staatsondernemings
# Eskom beplan om meer as drieduisend megawatt te herstel
# En die Wêreldvoedselprogram veroordeel die moord op burgerlikes in Gaza wat humanitêre hulp soek
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik het kommer uitgespreek oor die gebrek aan deursigtigheid wat die salarisse van uitvoerende hoofde by staatsinstellings betref, veral in die lig van swak dienslewering, reddingsboeie en swak prestasie. Die Padverkeerbestuurskorporasie se uitvoerende hoof, Makhosini Msibi, wat tans voorlopig geskors is weens bewerings van finansiële wangedrag, se totale vergoedingspakket het volgens berigte in die 2023/2024-boekjaar 10,5-miljoen-rand beloop. Eskom se uitvoerende hoof, Dan Marokane, verdien volgens berigte 6,9-miljoen-rand per jaar en die Transnet-hoof, Michelle Phillips, 8,5-miljoen-rand. OUTA sê die regering moet ‘n standaardvergoedingskaal instel.
# Eskom sê om die kragnetwerk se bestendigheid verder te versterk, gaan hy voor vanaand se spitstyd en deur die komende week drie-duisend-330 megawatt by die netwerk voeg. Tussen 1 April and 17 Julie was die verliesfaktor, wat die persentasie opwekkingsvermoë aandui wat weens onbeplande kragonderbrekings verlore gaan, 29,53-persent. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê vir die huidige boekjaar was daar tot op hede beplande onderhoud aan gemiddeld vyf-duisend-229 megawatt:
# Die polisie in die Wes-Kaap bied ‘n beloning van 50-duisend-rand aan vir inligting wat kan lei tot die inhegtenisneming en vervolging van ‘n gewapende man wat na bewering die kind van ‘n polisiebeampte by ‘n skool in Kaapstad gaan opsoek het. Die man was gewapen toe hy ‘n skool in Bellville binnegegaan het. ‘n Polisiewoordvoerder, Joseph Swartbooi, sê die man het na bewering ‘n onderwyseres in die nasorgsentrum gevra waar die kind is:
# Die Wêreldvoedselprogram sê geweld teen burgerlikes wat hulp soek is onaanvaarbaar. Volgens berigte het die Israelse weermag gister 67 mense doodgeskiet terwyl hulle in die noorde van Gaza op hulpvragmotors van die Verenigde Nasies gewag het. Die voedselprogram sê die voorval het plaasgevind ten spyte van Israelse owerhede se versekering dat humanitêre operasies sal verbeter en gewapende magte nie teenwoordig sal wees op humanitêre konvooie se roetes nie. Hy sê alle burgerlikes en hulpwerkers wat lewensnoodsaaklike hulp verleen, moet beskerm word.
# Gholf: Die wêreld-nommer-een, Scottie Scheffler, het die 153ste Ope-kampioenskap by Royal Portrush in Noord-Ierland gewen en daarmee sy vierde major-titel opgeraap. Die Amerikaner het met vier houe geseëvier ná ʼn finale ronde van 68 om op 17 onder baansyfer te eindig. Sy landgenoot, Harris English, is tweede op 13 onder en Chris Gotterup op 12 is derde. Rory McIlroy wat graag ʼn geskiedkundige oorwinning op sy tuisgrond wou behaal, deel die sewende plek. Scheffler sê hy het die hele toernooi goed gespeel:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-71 sent teen die dollar, 20-rand-58-sent teen die euro en 23-rand-75 sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 118-duisend-512 dollar. Die prys van goud is drie-duisend-354-dollar-88 sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar-70-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….