Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 10 Januarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Mantashe berispe Mbalula omdat hy te ver gaan met die Zuma-kwessie
# Minister Nxesi is besorg oor die gevaarlike neiging om mynwerkers ondergronds aan te hou
# En, krieket: Westelike Provinsie verbind hom om Nuweland se kolfblad te verbeter na die IKR-bevinding
# Die voorsitter van die ANC, Gwede Mantashe, het uitgevaar teen die party se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, omdat hy erken het die party het gelieg om oudpresident Jacob Zuma te beskerm teen korrupsie-bewerings rondom sy KwaZulu-Natalse landgoed, Nkandla. Mbalula se openbaring het wydverspreide kritiek ontlok, en kommer oor die uitwerking daarvan op die komende verkiesing. Opposisiepartye, insluitend die DA en die Inkatha Vryheidsparty, bevraagteken die ANC se geskiktheid om te regeer. Mantashe sê Mbalula het uit sy beurt gepraat en moet as leier omsigtig wees:
# Die minister van Indiensneming en Arbeid, Thulas Nxesi, het sy kommer uitgespreek oor die gevaarlike neiging om werkers ondergronds gyselaar te hou deur sitstakings, wat kan lei tot ongevalle. Hy vra leierskap van alle partye moet seëvier en hulle moet in gesprek tree met werkers om ‘n oplossing te vind wat op feite gegrond is. Nxesi sê hulle moet waak teen opportunisme met verhoogde waninligting, wat werknemers moontlik kan mislei en tot geweld aanleiding gee. Volgens Nxesi moet alle partye by die voorgestelde prosesse hou wat die reg toelaat en om mekaar te vind wanneer ander geskille mag ontstaan.
# Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ʼn waarskuwing uitgereik van kwaai donderstorms en ontwrigtende reën vandag. ʼn Geel vlak vier-waarskuwing is uitgereik vir die suidelike dele van Noordwes en die noordelike dele van Sentraal-Vrystaat, met swaar neerslae, sterk wind, hael en weerlig. ʼn Geel vlak twee-waarskuwing geld vir die Noord-Kaap, Mpumalanga en KwaZulu-Natal. Ontwrigtende reën word ook voorspel vir die oostelike dele van die Oos-Kaap. Die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Plaaslike Regering raai munisipaliteite aan om saam te werk om infrastruktuur te herstel wat deur onlangse swaar reën beskadig is.
# Krieket: Westelike Provinsie sê hy is daartoe verbind om te verseker die speeltoestande op Nuweland in Kaapstad is van die hoogste moontlike gehalte. Dit volg na die Internasionale Krieketraad se evaluering van die kolfblad vir die tweede toets tussen Suid-Afrika en Indië. Dit is as onbevredigend bevind en een strafpunt toegeken. Die wedstryd het net langer as ʼn dag en ʼn half geduur nadat ʼn rekord van 23 paaltjies op die eerste dag gekantel het. Die unie beloof om met Krieket Suid-Afrika saam te werk om te bepaal op watter gebiede verbeter kan word.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-63-sent teen die dollar, 20-rand-40-sent teen die euro en 23-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 44-duisend-978-dollar-60-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-31-dollar-72-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-25-sent per vat.
# Ten slotte: Die Suid-Afrikaanse ambassadeur na Denemarke, Fikile Magubane, die dogter van wyle welbekende fotograaf, Peter Magubane, het tydens sy begrafnis eer betoon aan haar vader. Sy het aan roubeklaers gesê haar pa het voortdurend die pad van weerstand gekies. Sy het gewys op sy onverskrokkenheid en toewyding om foto’s te neem wat Suid-Afrika se geskiedenis vasvang. Sy het hom beskryf as ʼn gesinsman en het sy beskermende geaardheid beklemtoon. Ambassadeur Magubane het weer verwys na haar vader se blywende nalatenskap as fotograaf:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….