Nuus 13:00
BULLETIN 20 Julie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC veroordeel Zuma omdat hy die beginsels van nie-gebondenheid, vrede en anti-koloniale solidariteit, verraai
# Solidariteit sê FlySafair sal van Maandag af vlieëniers uitsluit
# En, Minister George stel die Ietermago-ooreenkoms Wildsmisdaad-bewustheidsveldtog bekend
# Die ANC het die ongeoorloofde gebruik van die Suid-Afrikaanse vlag met buitelandse politieke ontmoetings gedurende bilaterale vergaderings tussen die MK-party se president, Jacob Zuma, en regeringsamptenare van Marokko veroordeel. Die ANC sê hierdie roekelose en uitlokkende gedrag is ‘n blatante skending van internasionale diplomatieke norme en ’n onaanvaarbare inmenging in Suid-Afrika se interne politieke aangeleenthede. Woordvoerder, Mahlengi Bhengu, sê hulle veroordeel die opportunistiese betrokkenheid van Zuma vir sy verraad van die beginsels van nie-gebondenheid, vrede en anti-koloniale solidariteit, wat hy eens voorgegee het om te handhaaf.
# Solidariteit sê vlugte van FlySafair kan vir twee weke ontwrig word omdat die maatskappy sy vlieëniers vanaf Maandag gaan uitsluit. Dit volg nadat omtrent 90-persent van die vlieëniers ten gunste van ‘n staking gestem het. Die vakbond het FlySafair in kennis gestel van ‘n eendag-staking, maar FlySafair het reageer met ‘n kennisgewing dat vlieëniers vir sewe dae uitgesluit sal word, wat vir ‘n verdere sewe dae kan voortduur. ‘n Woordvoerder vir Solidariteit, Helgard Cronjé, sê dit dwing die vakbond om sy kennisgewing van ‘n staking ook na 14 dae te verleng:
# Die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Dion George, het die Ietermago-ooreenkoms Wildsmisdaad-bewustheidsveldtog as ‘n G20-erfenisprojek van stapel gestuur. Hy sê die projek is daarop gemik om bewustheid te skep oor wildsmisdade en hoe Suid-Afrika en ander G20-lande die onwettige handel in wild, insluitend perlemoen, ietermagogs, renosters en leeus, bekamp. George sê hierdie projek ondersteun Suid-Afrika se nasionale geïntegreerde strategie, wat in 2023 deur die Kabinet goedgekeur is, om die handel in wild te bekamp:
# President Donald Trump is gediagnoseer met ‘n goedaardige aartoestand nadat kommer ontstaan het oor sy geswolle bene en die verkleuring van sy hande. Die presidensiële geneesheer het die 79-jarige president gediagnoseer met chroniese aar-ontoereikendheid, ‘n toestand waar beskadigde been-are nie behoorlike bloedsomloop moontlik maak nie. Die Withuis het ook die president se kneusplekke aan sy hande toegeskryf aan gereelde handskud en roetine-aspiriengebruik. Trump is met die aanvaarding van sy tweede ampstermyn die oudste Amerikaanse president in die geskiedenis. Hy spog gereeld oor sy energievlakke en het in April gesê dat hy in goeie gesondheid is.
# Fietsry: Die Nederlander, Thymen Arensman het die 14de skof van die Tour de France Saterdag gewen na ‘n uitstekende 183-kilometer solo-rit in die berge tussen Pau en Superbagneres. Die Sloween, Tadej Pogacar, het die geel trui as algehele leier behou deur tweede plek in die skof te einding nadat hy sy belangrikste teenstander, Jonas Vingegaard van Denemarke, in ‘n twee-manstryd gewen het, een minuut en 12 sekondes agter Arensman. Pogacar, die verdedigende kampioen, het nou sy voorsprong oor Vingegaard in die algemene klassifikasie to vier minute en 13 sekondes vergroot.
# En laastens, ‘n polisiehond wat aan Koningin Elizabeth II se begrafnis deelgeneem het, is in ‘n motorongeluk dood. Polisiehond Bert, ‘n vyf jaar oue spanjoel verbonde aan die Cleveland-polisie, was een van twee honde in ‘n ondersteuningsvoertuig toe dit met ‘n ander motor gebots het. Albei diere is na ‘n veearts geneem, maar weens die erns van sy beserings is Bert vankant gemaak. Bert was vir drie en ‘n half jaar ‘n polisiehond. In 2022 is hy na Londen ontplooi om te help met die begrafnis van die oorlede Koningin.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….