Nuus 9:00
BULLETIN 20 Julie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Mbalula sê Mchunu is deur geen hof in Suid-Afrika skuldig bevind nie
# Eskom bestee R5,8-miljard aan brandstof vir sy oopsiklus-gasturbines
# En, Tshwane Metropolisie doen ferm stappe teen onpadwaardige minibustaxi’s
# Die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, sê die minister van Polisie, Senzo Mchunu, is nie deur enige hof in die land skuldig bevind of aangekla nie. Mchunu is op verpligte verlof geplaas na verdoemende korrupsie-aansprake oor kriminele aktiwiteite binne die polisie deur die KwaZulu-Natalse provinsiale polisiekommissaris, Nhlahla Mkhwanazi. Mabulula sê Suid-Afrikaners moet die prosesse van die geregtelike kommissie van ondersoek wat deur president Cyril Ramaphosa, aangestel is, toelaat om sy gang te gaan:
# Eskom sê tussen 1 April en 17 Julie is sy dieselverbruik 48,4-persent laer in vergelyking met dieselfde tydperk verlede jaar. Dit is binne die goedgekeurde begroting, wat help om wanneer nodig sy operasionele doeltreffendheid te handhaaf. Eskom-woordvoerder, Daphne Mokwena, sê die kragverskaffer het 5,8-miljard-rand aan brandstof vir sy oopsiklus-gasturbine-aanlegte bestee, wat 941,75 gigawatt-uur elektrisiteit opwek:
# Die Tshwane Metropolisie sê hulle gaan voort om die oppergesag van die reg af te dwing en die lewens van inwoners te beskerm. Die metropolisie se Openbare Vervoer en Taakspan-eenhede het geteikende padveiligheidsoperasies regoor Pretoria-Sentraal, Laudium en Akasia uitgevoer. Die burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsveiligheid, Hannes Coetzee, sê tydens hierdie operasies is altesaam 68 minibustaxi’s geskut omdat hulle onpadwaardig was en sonder permitte bedryf is:
# Dertig mense is beseer nadat ‘n voertuig tussen mense ingejaag het wat voor ‘n nagklub in Los Angeles gewag het om in te gaan. Die klub het ’n reggae/hip-hop-vertoning aangebied. Die Los Angeles Brandweer sê sewe mense is kritiek beseer terwyl ses ander ernstige beserings opgedoen het. ’n Groep van hoofsaaklik vroue, het gewag om die Vermont Hollywood-musieklokaal in Oos-Hollywood binne te gaan toe die motor hulle getref het. Die polisie ondersoek die voorval as ‘n doelbewuste daad, aangesien die dronk bestuurder ’n U-draai gemaak het voordat hy tussen die mense ingejaag het.
# Rugby: The Junior Springbokke het ‘n 13-jaar droogte gebreek met ‘n kragvertoning in Rovigo, Italië en die Junior All Blacks Saterdagaand met 23-15 in die eindstryd van die Wêreld Rugby Onder-20 Kampioenskap verslaan. Dit is Suid-Afrika se eerste oorwinning sedert 2012 toe ‘n span met spelers soos Handre Pollard, Pieter-Steph du Toit en Steven Kitshoff die titel ingepalm het. Die Suid-Afrikaners het met halftyd 13-5 voorgeloop. Xola Nyali en Gilermo Mento het elk ‘n drie aangeteken, met Vusi Moyo wat twee doelskoppe en drie strafskoppe tot die eindtelling bygedra het.
# Gholf: Scottie Scheffler het Saterdag nader aan sy eerste Britse Ope titel beweeg en ’n voorsprong van vier houe opgebou voor vandag se laaste ronde by Royal Portrush. Die wêreld nommer-een het ‘n gemaklike derde ronde van vier-onder baansyfer, 67 aangeteken, en is nou 14 onder baansyfer vir die toernooi. Scheffler het nou ‘n vierde major-titel in sy visier en is op die derde been van ‘n moontlike Grand Slam loopbaanoorwinning. Hy sal die eerste wêreld nommer-een wees wat die Britse Ope wen sedert Tiger Woods sy derde titel in 2006 ingepalm het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….