Nuus 09:00
BULLETIN 19 Julie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# John Steenhuisen lei ‘n bek-en-klouseer Indaba in Pretoria
# Die Trump-administrasie vra die hof om sommige van die Epstein-dokumente vry te stel
# En atletiek: Dis Simbine teen Lyles by die Diamantliga in Londen
# Die minister van Landbou, John Steenhuisen, sê sy departement en ander belanghebbendes sal Maandag en Dinsdag ‘n hoëvlak-nasionale bek-en-klouseer-indaba in Roodeplaat, Pretoria, aanbied. Hy sê Suid-Afrika ervaar tans beduidende en voortdurende uitdagings met uitbrekings van bek-en-klouseer in verskeie provinsies. Dit het gelei tot beperkings op die beweging van vee en het die land se rooivleishandel op internasionale markte aansienlik beïnvloed. Steenhuisen sê Suid-Afrika kan nie bekostig om bek-en-klouseer soos gewoonlik te hanteer nie:
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik verwelkom ‘n uitspraak deur die Hooggeregshof in Johannesburg wat die stryd teen wanadministrasie en wettige intimidasie versterk. Die hof het die voormalige voorsitter van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente, Ernest Khosa, se poging om OUTA se verslag wat hom van korrupsie beskuldig, te blokkeer van die hand gewys. Die organisasie se woordvoerder, Stefanie Fick, sê die regter het bevestig privaat organisasies is nie verplig om ‘n voorpublikasie-verhoor aan te bied voordat oortredings blootgelê word nie:
# Geslote kringtelevisie-beeldmateriaal van die Kaapse Metropolisie het 215 breek-en-gryp-voorvalle aangeteken vanaf Julie 2024 tot Mei 2025, meestal in die laatmiddag en oor naweke. Die Bonteheuwel-Langa-deurgang bly ‘n brandpunt, met verhoogde bedrywighede in Leonsdale, Philippi en Milnerton. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekerheid, JP Smith, sê waaksaamheid is die sleutel en vra motoriste om waardevolle goedere weg te steek, deure te sluit en op hul hoede te bly. Doelgerigte ontplooiings word beplan om padveiligheid te verbeter:
# Die Amerikaanse Departement van Justisie het ‘n regter gevra om dokumente wat verband hou met die seksoortreder Jeffrey Epstein vry te stel, ná hewige kritiek op die Trump-administrasie se hantering van die saak. Die versoek het betrekking op transkripsies van die groot jurie in die 2019-mensehandelsaak teen Epstein. Die hofaansoek volg nadat Trump die Wall Street Journal se moedermaatskappy, Dow Jones, die eienaar Rupert Murdoch, en twee verslaggewers, gedagvaar het oor ‘n storie wat beweer dat hy in 2003 ‘n “onfatsoenlike” persoonlike nota aan Epstein op sy 50ste verjaardag gestuur het. Trump sê die nota is “vals”.
# En ten slotte sportnuus:
# Gholf: Die 153ste Ope-kampioenskap by Royal Portrush in Noord-Ierland het in ‘n nagmerrie ontaard vir die 11 Suid-Afrikaners. Die heersende PGA-kampioenskapwenner Scottie Scheffler loop voor met 10 onder baansyfer. Christiaan Bezuidenhout het goed begin toe hy met ‘n 67 geopen het om saam met vyf ander spelers voor te loop teen die begin van die tweede ronde. Maar by die halfpadmerk het hy teruggeval en is nou agt houe agter die voorloper. Vir Suid-Afrika is Dean Burmeister op baansyfer, Thriston Lawrence op een oor, en Dylan Naidoo op vier oor baansyfer.
# En atletiek: Akani Simbine van Suid-Afrika sal sy voorbereiding vir die Wêreld-atletiekkampioenskap in September voortsit wanneer hy vandag in Londen aan ‘n sterbelaaide 100-meter deelneem op die Diamantliga-byeenkoms. Die Olimpiese kampioen, Noah Lyles, het beloof hy is gereed om sy glans-persoonlikheid na die uitverkoopte stadion te bring. ‘n Skare van 60-duisend toeskouers word verwag op die tuisveld van die Premierligaklub West Ham, wat die baan- en veldnommers aangebied het tydens 2012 se Olimpiese Spele. Zakithi Nene van Suid-Afrika gaan aan die mans-400-meter deelneem.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….