Nuus 08:00
BULLETIN 19 Julie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Solidariteit sê FlySafair het oorlog verklaar teen vlieëniers
# Rugby: Mbombela-stadion is in groen en goud getooi met reusesteun vir die Springbokke
# En ten slotte, Antarktika se oudste ys kom in Brittanje aan vir ontleding van klimaatsverskuiwings
# Die vakbond Solidariteit sê FlySafair se bestuur het oorlog verklaar teen sy vlieëniers en die publiek. Dit volg nadat die lugredery aangekondig het vlieëniers sal vir sewe dae verbied word om te werk in reaksie op ‘n beplande een dag staking. Die lugredery kan moontlik die vlieëniers tot 14 dae verbied. Die vakbond het ook sy staking tot twee weke verleng. Helgard Cronjé van Solidariteit sê FlySafair se topbestuurders het volgens berige aandele ter waarde van meer as 90-miljoen-rand verkoop, terwyl vlieëniers onder swak omstandighede moet werk:
# Die DA in die Wes-Kaap veroordeel SASSA se toelaaghersieningsproses en noem dit ‘n gebrek aan deernis wat kwesbare inwoners benadeel. Partywoordvoerder, Wendy Kaizer-Philander, sê bejaardes en werklose begunstigdes word aangesê om ‘n maand later terug te kom vir hersienings, al het hulle die regte dokumentasie verskaf. Sy vra SASSA om persoonlike verifikasies op te skort, die proses te stroomlyn en op te hou om informele inkomste te straf:
# Die Gautengse Provinsiale Wetgewer bied vandag die Kindersektorparlement aan, om kinders se regte soos vervat in Suid-Afrika se Grondwet, te bevorder. Die geleentheid gaan voort met president Nelson Mandela se nalatenskap om kinders se welvaart te bevorder. Deelnemers sal met wetgewers kan praat oor kwessies soos geestesgesondheid, toegang tot gespesialiseerde laerskole en omvattende onderrig oor seksualiteit. Die platform maak dit moontlik vir kinders en belangegroepe om werklike oplossings aan provinsiale leiers voor te stel, en te verseker dat beleide hul behoeftes en realiteite weerspieël.
# Rugby: Die bestuurder van Mbombela Stadium, Roelf Kotze het in gesprek met SABC Sport aangedui dat meer as 35-duisend kaartjies reeds verkoop is vir die Springbokke se groot wedstryd teen Georgië. Kotze het rugbyliefhebbers aangemoedig om vroeg by die veld te kom en die hele ondervinding, insluitende die biertent en die spanopwarmings te geniet. Die stadion sal in groen en goud versier wees, met parkeer-en-ry-geriewe vir toeskouers. Die polisie in Mpumalanga sê hulle verwag geen voorvalle nie, maar hulle is gereed. Die wedstryd begin vanmiddag om 10 oor 5.
# Tennis: Die driemalige Grand Slam-finalis, Ons Jabeur, gaan ‘n breek neem van kompeterende tennis. Jabeur is die eerste Arabiese vrou wat al in ‘n Grand Slam-eindstryd gespeel het, maar het in die laaste paar maande met haar spelpeil gesukkel, en het hierdie jaar nie een keer verder as die derde ronde gevorder nie. Die 30-jarige Tunisiër het op sosialemedia gesê sy het lanklaas regtig gelukkig op die tennisbaan gevoel. Jabeur is getroud met die voormalige skermer, Karim Kamoun en maak geen geheim daarvan dat sy met ‘n gesin wil begin nie.
# En ten slotte: Antartika se oudste ys het in Brittanje aangekom vir ontleding wat wetenskaplikes hoop sal meer onthul oor die aarde se klimaatsverandering. Die yskerns sal by die Britse Antarktiese Opname in Cambridge ontleed word, met die uiteindelike doel om tot 1,5-miljoen-jaar van die aarde se klimaatgeskiedenis te rekonstrueer. Die silindriese buise is uit dieptes van tot twee-duisend-800-meter herwin. Daar word verwag dat die navorsing waardevolle insig kan lewer om toekomstige klimaatverandering te voorspel. Navorsers hoop om voorspellings te verbeter oor hoe die klimaat sal reageer op toekomstige toenames in kweekhuisgasse.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….