Nuus 07:00
BULLETIN 19 Julie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Staatskapingsbeskuldigde pleit skuldig aan bedrog en geldwassery
# Kenners doen ‘n beroep op werkgewers om ’n duidelike emoji-gebruiksbeleid te skep
# En rugby: ’n Opwindende toetsnaweek wag op ondersteuners
# Die Nasionale Vervolgingsgesag verwelkom die skuldigbevinding van die staatskapings-beskuldigde, Yakub Bhikhu, nadat hy skuldig gepleit het op 81 aanklagte, insluitend bedrog, geldwassery en belastingsoortredings. Die Streekshof in Pretoria het Bhikhu tot tien jaar tronkstraf gevonnis, waarvan vyf jaar opgeskort is, en hom gelas om 300-duisend-rand aan Transnet terug te betaal. Die Teenkorrupsie-ondersoekdirektoraat se woordvoerder, Henry Mamothame, sê Bhikhu se onderneming, Homix, is met 500-duisend-rand beboet, maar dit is opgeskort op voorwaarde dat geen verdere oortredings plaasvind nie:
# Die familie van die 16-jarige Jayden Masson het Action Society amptelik aangestel om geregtigheid te bekom ná sy verdagte en gewelddadige dood in 2021. Die organisasie sê bewyse het weggeraak, onderhoude is vertraag en die misdaadtoneel is swak verwerk. Antwoorde word nou geëis oor vertragings in die geregtelike doodsondersoek, dagvaardings wat ontbreek en die dossier se verskuiwing na Meyerton. Juanita du Preez van Action Society sê Jayden is by sy pa se huis in Walkerville dood, maar die saak verlede jaar is swak hanteer en was aanvanklik as ‘n moord beskou:
# Werkgewers word versoek om duidelike emoji-gebruiksbeleide in die werkplek uit te stippel. Dit volg ná ‘n webinaar gelei deur die forensiese taalkundige Zakeera Docrat en regskenners van Cliffe Dekker Hofmeyr. Kenners waarsku emoji’s kan maklik wanvertolk word, wat kan lei tot regstappe- en kommunikasierisiko’s. Hulle beklemtoon hoe belangrik dit is om werknemers te betrek wanneer sulke beleide opgestel word en om bywerkings van werksplek-kommunikasiereëls te bied om moderne digitale gewoontes te weerspieël.
# Kenia het vergoeding betaal aan vier vroulike slagoffers van seksuele geweld wat ná die 2007-verkiesing uitgebreek het. Hierdie is die eerste betaling van sy soort in die land. Voorspraakgroepe het bevind minstens 900 mense is seksueel aangerand, wat groepsverkragting en kastrasie insluit, tydens die vlaag van geweld wat meer as ‘n dekade gelede in die land gewoed het. ‘n Hooggeregshof het in 2020 die regering beveel om vergoeding aan vier vroue te betaal, met regtegroepe wat bevestig het amptenare het gister in ‘n “geskiedkundige” stap fondse van ongeveer 550-duisend-rand aan elke slagoffer toegestaan.
# En sportnuus:
# Sokker: Banyana Banyana afrigter, Desiree Ellis sê vanaand se WAFCON-kwarteinrondtewedstryd teen Senegal gaan opwindende spel oplewer. Sy het verwys na Senegal se spoed en fisieke spel. Suid-Afrika is onoorwone tot sover, en is boaan Groep C met ‘n oorweldigende oorwinning van 4-0 oor Mali. Senegal is egter een van die beste derdeplek spanne en mag nie onderskat word nie. Ellis waarsku dat klein verskille deurslaggewend kan wees. Die wedstryd skop vanaand om 9-uur Suid-Afrikaanse tyd af in die Honneur Stadion in Marokko.
# En rugby: Nieu-Seeland en Frankryk skop die naweek se internasionale aksie af met die derde toets in Hamilton, gevolg deur die eerste toets tussen die Wallabies en die Britse en Ierse Leeus in Brisbane. Vanmiddag verwelkom die Springbokke Georgië in Mbombela, gevolg deur die wedstryd tussen Argentinië en Uruguay in Salta. Amerika en Engeland speel in Washington. Na hierdie naweek is daar ‘n onderbreking van internasionale rugby tot Suid-Afrika en Australië die Rugbykampioenskap op 16 Augustus op Ellispark afskop.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….