Nuus 11:00
BULLETIN 18 Julie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Sisulu-stigting striem minister Ntshavheni se staatsgreepbewerings
# ‘n Staking word afgeweer by die Gautrein
# En rugby: Die Springbok-heelagter Aphelele Fassi verwag môre ‘n taai stryd teen Georgië
# Die Walter en Albertina Sisulu-stigting vir Maatskaplike Geregtigheid kritiseer die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, se bewerings as onverantwoordelik en gevaarlik. Die minister het hierdie week bekend gemaak dat die sekerheidsgroepering die gevaar van ‘n staatsgreeppoging identifiseer het, maar dat die betrokke agentskappe die mense agter die plan dophou. Die stigting sê om sulke bewerings sonder bewyse te maak, is nie net roekeloos nie, maar skep vrees en stel beleggingsvertroue en nasionale samehang in gevaar.
# Die Vereniging van Staatsamptenare sê die minister van Finansies, Enoch Godongwana, moet dringend ʼn nuwe raad vir die Openbare Beleggingskorporasie aanstel. Die vorige raad se termyn het verstryk. Intussen is die korporasie se uitvoerende hoof, Thabiso Moshikara, geskors te midde van ernstige bewerings oor omkoopgeld van drie-miljoen-rand. Die vakbond se woordvoerder, Claude Naiker, sê die vertraging met die aanstelling van ʼn nuwe raad ondermyn bestuur en bestendigheid terwyl beslissende leierskap nodig is:
# Die metaalwerkers-vakbond en die Gautrein se operateur, Bombela Operating Company, het ‘n salaris-ooreenkoms van 4,2-persent onderteken, wat hoër as inflasie is. Onderhandelinge het in Junie vasgeval nadat die vakbond ‘n verhoging van sewe-persent geëis het. Numsa het gedreig om te staak en Bombela daarvan beskuldig dat sy aanbod onvoldoende is in die lig van stygende lewenskoste. Die vakbond se woordvoerder, Phakamile Hlubi-Majola, sê die ooreenkoms is terugwerkend tot 1 Julie:
Nou nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, het prokureur-generaal Pam Bondi opdrag gegee om die groot-jurie-getuienis wat met Jeffrey Epstein se sekshandelsaak verband hou, vry te stel. Dit volg ná druk deur sommige van Trump se getrouste ondersteuners om meer inligting oor die saak bekend te maak. Die Departement van Justisie het voorheen gesê hy het sowat 200 dokumente wat op Epstein betrekking het en dat die FBI nog duisende het. Dis onseker hoeveel van die Epstein-verwante materiaal in die regering se besit groot-jurie-getuienis is.
# Rugby: Die Springbok-agterspeler, Aphelele Fassi, sê hulle maak gereed vir ʼn Georgiese span wat tradisioneel sterk vorentoe beur wanneer die bal by die agterlyn beland. Die 23-jarige gaan môremiddag in Mbombela, Mpumalanga, die 12de keer vir die Bokke uitdraf wanneer hulle Georgië pak. Fassi, wat saam met Kurt-Lee Arendse en Edwill van der Merwe die agterste driehoek vorm, verwag ʼn fisiese stryd:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-75 sent teen die dollar, 20-rand-64-sent teen die euro en 23-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 120-duisend-306-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-343-dollar-21 sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 69-dollar per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….