Nuus 07:00
BULLETIN 18 Julie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê rasse-ongelykheid en armoede bied steeds belangrike uitdagings
# Motorsport: Brad Binder keer terug na die baan waar hy sy eerste MotoGP-oorwinning behaal het
# En vandag is Internasionale Nelson Mandela-dag
# President Cyril Ramaphosa sê rasse-ongelykheid en armoede is steeds van Suid-Afrika se grootste uitdagings. Hy het in sy antwoord op die Presidensie se begrotingsdebat die blywende uitwerking uitgelig van beleid uit die apartheids-era wat wit burgers bevoordeel en diep ekonomiese ongelykhede geskep het. Ramaphosa beklemtoon dat die regering van nasionale eenheid gefokus moet bly op inklusiewe groei, werkskepping en die vermindering van ongelykhede om ‘n regverdiger en meer welvarende gemeenskap vir alle Suid-Afrikaners te bou:
# Die parlementêre portefeuljekomitee vir Elektrisiteit en Energie, het kommer uitgespreek oor moontlike werksverliese as gevolg van die Billike Energie-oordragplan. Volgens die plan sal die kragverskaffer teen 2040 23 gigawatt elektrisiteit staak wat by vyf steenkool-kragstasies opgewek word. Om op te maak hiervoor, sal die staatsinstelling hernubare bronne, gas-, hidro- en kernkrag uitbrei. Eskom het aan die komitee gesê hy wil ekonomiese groei op alle vlakke bevorder terwyl hy al die beskikbare bronne gebruik om vrystelling-teikens te haal.
# Die DA het die aanstelling van ‘n 29-jarige brigadier wat tans op borgtog uit is vir bedrog, as Hoof van Sigbare Polisiëring in die Mootdistrik van Pretoria, veroordeel. Ian Cameron van die DA sê die offisier het nie voldoende opleiding nie, het nog nooit ‘n uniform gedra nie, en staar ernstige aanklagtes in die gesig. Terwyl die polisie dit ‘n tydelike aanstelling noem, dring Cameron aan dat sy dadelik geskors moet word en vra vir ‘n volledige verduideliking deur die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola. Die brigadier is een van die beskuldigdes in die korrupsieverhoor van hoë amptenare by Misdaadintelligensie.
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, en die Britse Minister van Finansies, Rachel Reeves, het ’n mylpaal-vennootskap by die G20-vergadering van ministers van Finansies in Durban aangekondig, wat Suid-Afrika se infrastruktuurlewering ’n hupstoot sal gee. Brittanje sal drie projekte, Project Capstone, Project Speed, en die Adopt-a-Municipality programme ondersteun. Hierdie inisiatiewe beoog om projeklewering, batebestuur en munisipale infrastruktuur te verbeter. Macpherson sê die medewerking sal vervalle geboue herstel, ekonomiese groei aanwakker, en werkloosheid beveg deur Suid-Afrika in ‘n florerende konstruksiespilpunt te omskep.
# Motorsport: Brad Binder van Suid-Afrika sê hy sien uit na die naweek se Grand Prix in Tsjeggië wat na vyf jaar weer in Brünn aangebied word. Die KTM-renjaer het die wedren in 2020 in dié stad in slegs sy derde MotoGP gewen. Die 29-jarige Binder het tot dusver ‘n moeilike seisoen gehad en sy beste was ʼn sesde plek. Binder sê hy hoop die opgeknapte baanoppervlak en die baan se uitleg sal hom help:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-79-sent teen die dollar, 20-rand-69-sent teen die euro en 23-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 120-duisend-425-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-338-dollar-29-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar-71-sent per vat.
# En ten slotte, dis vandag Internasionale Nelson Mandela-dag om Mandela se nalatenskap deur dade van diens en deernis te vier. Vanjaar se tema is Dis steeds in ons hande om armoede en ongelykheid te beveg. Individue, gemeenskappe en organisasies word vandag aangemoedig om na te dink oor Mandela se waardes en beginsels en ʼn positiewe invloed in hul eie gemeenskappe te wees. Die regering sê Suid-Afrikaners het hul eie individuele mag om van die wêreld ʼn beter plek te maak.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….