Nuus 18:00
BULLETIN 17 Julie 6 nm
Goeiemôre/Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa verdedig die demokratiese proses in repliek op sy begrotingsdebat
# Brittanje wil die ouderdom vir deelname aan verkiesings verlaag na 16
# En rugby: Die Junior Springbokke kies ‘n onveranderde span vir Saterdagaand se eindstryd teen die Baby Blacks
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika se demokrasie het betekenisvolle vordering gemaak sedert 1994, met verbeterings in onderwys, gesondheidsorg, behuising en grondhervorming. Hy het reageer op die debat oor die Presidensie se begroting. Ramaphosa het herbevestig die regering is verbind tot grondwetlike beginsels en die werk van die regering van nasionale eenhei. Hy het parlementslede gevra om die begroting te ondersteun, en sê dit maak dienslewering moontlik, bou ‘n bekwame regering, en ondersteun ekonomiese en demokratiese hervormings:
# Die Nasionale Vervolgingsgesag het appèl aangeteken in die Landdroshof in Randburg, Gauteng, ná die besluit om borgtog toe te staan aan 12 Weermag-soldate wat beskuldig word van die moord op ‘n ondersoeker van die Valke, Frans Mathipa. Die soldate is borgtog van tien-duisend-rand elk toegestaan. Woordvoerder Phindi Mjonondwane sê die NVG wag op die hoftranskripsie voordat hulle by die Hooggeregshof aansoek doen. Die saak is tot 17 September uitgestel.
# Die president van die Reserwebank, Lesetja Kganyago sê Afrika se voorkeure, insluitend klimaatsverandering, oorgrens-betalings en die hoë koste van kapitaal, bly die kernsake by die G20, ondanks gesprekke oor tariewe. Hy het in Zimbali, KwaZulu-Natal, aan Reuters gesê die sentrale banke van Afrika beoog om handel te vergemaklik deur oorgrens-betalings in te stel. Kganyago het beklemtoon dat die agenda nie anti-Amerika is nie, maar wel pro-Afrika:
# Die Britse regering beplan om 16- en 17-jariges toe te laat om in algemene verkiesings te stem. Die ouderdomsverandering sal waarskynlik omstrede wees, met kritici wat voorheen aangevoer het dit is selfsugtig aangesien tieners wat pas stemregte ontvang het meer geneig is om die linkse Arbeidersparty te ondersteun. Die regering sal wetgewing in die Parlement moet voorlê, waar daar reeds ‘n gemaklike meerderheid is, om die wysiging aan te bring. Slegs ‘n klein aantal lande laat 16-jariges toe om in nasionale verkiesings te stem. Dit sluit in Oostenryk, Argentinië, Brasilië, Ecuador en Kuba.
# Rugby: Die Junior Springbokke het ‘n onveranderde wedstrydgroep aangewys vir Saterdagaand se eindstryd van die Wêreldrugby Onder-20-kampioenskap teen Nieu-Seeland in Rovigo, Italië. Die slot Riley Norton sal weer die span aanvoer wat in al die groepwedstryde en ook in Maandag se halfeind-oorwinning oor Argentinië gespeel het. Die bank bestaan weer uit ses voor- en twee agterspelers. Dit is die eerste keer sedert 2014 dat die Junior Bokke in ‘n eindstryd speel, en ‘n herhaling van 2012 se eindstryd toe Suid-Afrika Nieu-Seeland geklop het. Die wedstryd begin Saterdagaand halfnege.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-86-sent teen die dollar, 20-rand-71-sent teen die euro en 23-rand-95-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 118-duisend-498-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-327-dollar-56-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-1-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….