Nuus 17:00
BULLETIN 17 Julie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die NVG wil na die Hooggeregshof appelleer teen borgtog vir 12 soldate wat van moord aangekla word
# Krieket: Patrick Moroney word aangestel as die nuwe keurder-sameroeper vir Proteas-manspan
# En die beroemde sangeres Connie Francis sterf op 87
# Die Nasionale Vervolgingsgesag het appèl aangeteken in die Landdroshof in Randburg, Gauteng, ná die besluit om borgtog toe te staan aan 12 Weermag-soldate wat beskuldig word van die moord op ‘n ondersoeker van die Valke, Frans Mathipa. Die soldate is borgtog van tien-duisend-rand elk toegestaan. Woordvoerder Phindi Mjonondwane sê die NVG wag op die hoftranskripsie voordat hulle by die Hooggeregshof aansoek doen. Die saak is tot 17 September uitgestel.
# Die adjunkminister van Kommunikasie en Digitale Tegnologieë, Mondli Gungubele, sê die beslissing van die Hooggeregshof van Gauteng teen die sosiale media-reus, Meta, sal kinders beskerm teen seksuele misbruik en eksplisiete inhoud. Die hof het beslis dat Meta ‘n aantal anonieme Instagram-rekeninge en WhatsApp-kanale permanent moet sluit omdat dit kinderpornografie versprei waarby Suid-Afrikaanse leerders betrokke is. Gungubele het aan Newzroom Afrika gesê die betrokkenheid van belanghebbendes word benodig asook die instel van streng wette teen sulke verspreiding:
# Die voorsitter van die Afrika-paneel, Trevor Manuel, sê dringende wêreldwye optrede is nodig om Afrika se verslegtende skuldkrisis teen te werk. Hy het tydens ‘n gesprek met die G20 Suid-Afrika-kanaal tydens ’n G20 Finansiële sektorgeleentheid in KwaZulu-Natal beklemtoon dat die ryker noordelike lande verantwoordelik gehou moet word terwyl suidelike G20-lande ‘n verenigde front moet wees vir die saak. Hy sê die paneel ontwikkel praktiese norme om werklike verandering en finansiële verligting te bevorder:
# Krieket: Patrick Moroney is aangestel as nuwe keurder-sameroeper van die Proteas-manspan. Sy vorige ondervinding sluit in sameroeper van die keurders vir die Suid-Afrikaanse Nasionale Akademie-span, die Suid-Afrikaanse ontluikende span en die onder-19-manspan. Krieket Suid-Afrika sê Moroney sal by die Sentrum van Uitnemendheid in Pretoria werk en nou saamwerk met die Proteas se afrigter, Shukri Conrad. Die direkteur van nasionale spanne en hoë werkverrigting, Enoch Nkwe, sê Moroney se omvattende kennis van die spel maak hom die ideale kandidaat vir die pos.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-90-sent teen die dollar, 20-rand-75-sent teen die euro en 23-rand-98-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 117-duisend-816-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-316-dollar-53-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-98-sent per vat.
# En ten slotte: Die beroemde Amerikaanse sangeres Connie Francis is op 87 oorlede. Sy was ‘n ster in die 1950’s en 60’s en een van haar treffers, Pretty Little Baby van 1962, was onlangs weer ‘n treffer toe dit wyd op sosiale media gedeel is. Sy het toe gesê dit is verstommend dat ‘n liedjie wat sy 63-jaar gelede opgeneem het, die harte van miljoene mense raak. Francis is in 1937 in New Jersey gebore as Concetta Rosa Maria Franconero, was vier keer getroud en het een kind gehad.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….