Nuus 16:00
BULLETIN 17 Julie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Sakeliga en TLU SA neem die Departement van Water hof toe oor beweerde onregmatige skuldinvordering
# Die Referendum-party sê Suid-Afrika is skynheilig oor internasionale reg
# En tennis: Genie Bouchard gaan uittree na die Kanadese Ope
# Sakeliga en TLU SA het ‘n Hooggeregshofaansoek ingedien om die Departement van Water- en Sanitasie te verhoed om onregmatig skuld vir watergebruik in te vorder wat reeds verval het. Hulle voer aan waterrekeninge verval na drie jaar kragtens die Verjaringswet. Die Departement het dit wel in 2021 erken, maar sedertdien sy standpunt verander. Tian Alberts van Sakeliga waarsku die stap bedreig voedselsekerheid en werkbestendigheid en is ‘n skending van skuldverjaringsreëls:
# Die Vereniging van Staatsamptenare versoek ‘n onmiddellike ondersoek na tender-onreëlmatighede by Suid-Afrikaanse Toerisme. Dit gaan oor ‘n tender ter waarde van 100-miljoen-rand wat aan ‘n onderneming met min of geen ervaring toegestaan is, nadat die onderneming na bewering vals dokumente ingedien het. Die tender hou verband met die Afrika 2025-program en die Afrika Reis-indaba. Claude Naicker van die vakbond vra die minister van Toerisme, Patricia de Lille, om gepaste stappe te doen:
# Die Referendum-party sê hy is stomgeslaan oor die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking se skaamtelose skynheiligheid om vir ander state te preek oor hulle uitsoekerige toepassing van internasionale reg. Joan Swart van die party sê Suid-Afrika is die beste voorbeeld van dubbele standaarde. Sy sê die land beywer hom aktief vir selfregering vir Palestyne, inwoners van Wes-Sahara en Suid-Soedannese, maar staan dit teen vir Taiwannese, Oeigoere, Hongkong, Tibet, Israel, die Wes-Kaap en inderdaad vir Afrikaners:
# Tennis: ‘n Voormalige Wimbledon-naaswenner, Geni Bouchard, gaan later die maand uittree ná haar tuistoernooi, die Kanadese Ope. Die 31-jarige het ‘n promotorskeuse vir die hooftrekking aanvaar. Sy het in 2014 teen Petra Kvitova van die Tsjeggiese Republiek verloor in Wimbledon se eindstryd en die halfeindrondes van die Australiese en die Franse Ope gehaal. Bouchard het haar land in 2023 gehelp om haar eerste Billie Jean King-beker te verower. Die toernooidirekteur van die Kanadese Ope, Valerie Tetreault, sê sy was ‘n baanbreker wat plaaslike tennis tot ‘n nuwe hoogtepunt gevoer het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-92-sent teen die dollar, 20-rand-74-sent teen die euro en 23-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 117-duisend-774-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-316-dollar-65-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-20-sent per vat.
# En laastens, teetyd-plesier in China sluit nou drukkies met leeuwelpies in tydens ‘n viergang-middagete in ‘n restaurant in die noorde. Gaste word in aanlyn video’s en foto’s op Chinese kletsplatforms gesien waar hulle welpies soos baba’s op hulle skoot vashou. Die Wanhui-restaurant het in Junie oopgemaak en verkoop sowat 20 kaartjies per dag aan gaste wat drukkies met diere wil geniet as deel van ‘n vaste spyskaart van ongeveer twee-duisend-700-rand. Aanlyn kommentaar is hoofsaaklik krities en sê die onderneming is gevaarlik en nie goed vir die diere nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….