Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 10 Januarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Jong Kommunisteliga vra ‘n objektiewe ondersoek na NSFAS-korrupsiebewerings
# SASSA versuim om meer as 70-duisend begunstigdes te betaal
# En, die Kaapstadse avontuur-swemmer Kim Prytz stel twee nuwe Robbeneiland-rekords op
# Die Jong Kommunisteliga van Suid-Afrika vra ‘n omvattende ondersoek na korrupsie by die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente. Hulle beskuldig die Organisasie teen Belastingmisbruik van ʼn doelbewuste sameswering teen die welslae van die regering. Die liga is oortuig die bewerings teen die minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Innovering, Blade Nzimande, en die voorsitter van die skema se raad, Ernest Khoza, is ongegrond en nie bevestig nie. Die liga se sekretaris, Mzwandile Thakhudi, veroordeel die korrupte bedrywighede wat aangemeld is, soos betalings aan spookstudente, en vra vir betrokkenheid deur ʼn staatsbank.
# Die DA sê hy word oorval met bekommerde SASSA-toelaebegunstigdes wat vrees hulle moet weer aansoek doen en dan maande sonder hul geld klaarkom. Die party beweer meer as 70-duisend begunstigdes wag op hierdie maand se maatskaplike toelaes, met SASSA wat ‘n fout in verband met die bevestiging van bankbesonderhede die skuld gee. Die DA-lid, Bridget Masango, sê vorige probleme in September het talle sonder betalings gelaat, wat vrese laat ontstaan het oor onbetaalde kinderondersteuningstoelae-ontvangers wat eers volgende maand geld sal ontvang:
# Mpumalanga se LUR vir Gemeenskapsveiligheid, Sekerheid en Skakeling, Vusi Shongwe, doen ‘n beroep op mense wat die naweek die ANC se verjaarsdagvierings in Mbombela gaan bywoon om verkeersreëls te gehoorsaam. Wetstoepassers sal slaggereed wees om op enige gebeurtenis te reageer. Berigte dui aan die meeste verblyfplekke is reeds vol bespreek. Die departement se woordvoerder, Moeti Mmusi, sê dit is ‘n goeie ding vir toerisme en baie klein sake-ondernemings in en om die stad:
# Die Kaapstadse avontuur-swemmer, Kim Prytz, het haar naam in die rekordboeke verewig deur die Robbeneiland-oorgang as borslagswemmer te oorwin. Prytz het die afstand van 19.8-kilometer sonder ʼn duikpak in 14 uur, 13 minute en 3 sekondes afgelê. Dit is genoem die ‘Versoeningswemtog’ en hierdie merkwaardige prestasie het ook ʼn liefdadigheid in gedagte gehad. Die 49-jarige Prytz het haar swemtog toegewy ter ondersteuning van die Goedgedacht Trust. Die trust is aktief gemoeid met die hervorming van benadeelde landelike gemeenskappe in die Wes-Kaap.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-62-sent teen die dollar, 20-rand-39-sent teen die euro en 23-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 45-duisend-605-dollar-40-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-34-dollar-46-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-59-sent per vat.
# Ten slotte: ‘n Egpaar van Pennsilvania het ‘n hele nuwe betekenis aan “my hond het my huiswerk gevreet” ontdek nadat hul hond vier-duisend-dollar in kontant verslind het. Die sewejarige Cecil het besluit om die geld te vreet wat sy eienaars, Clayton en Carrie Law, onttrek het om tuiniers mee te betaal. Nadat hulle geduldig gewag het vir van die geld om op ‘n natuurlike manier uit te kom, het die egpaar begin om van die 100- en 50-dollarnote weer bymekaar te maak. Gelukkig het hul bank gesê solank die reeksnommers sigbaar is, sal hulle die geld terugneem.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….